|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Vuurwapeneienaars, wat vanaf 1 Januarie tot 31 Maart verjaar het, se tyd raak min om hul bestaande vuurwapenlisensies te hernu. Gerugte dat die wet gewysig gaan word om hulle tegemoet te kom, is nie waar nie.
Mnr. Kobus Visser, direkteur van korporatiewe skakeling by Agri SA, sê daar is gerugte dat die Wet op die Beheer van Vuurwapens gewysig gaan word wat dit onnodig sou maak om wettige gelisensieerde vuurwapens te herlisensieer soos deur die oorgangsreëlings ingevolge die wet vereis.
Die hoof van die SA Polisiediens se vuurwapenregister ontken dit en sê diegene wat nie op die voorgeskrewe manier aansoek gedoen het nie, sal geag word om in besit van 'n onwettige vuurwapen te wees. As iemand in 'n hof skuldig bevind word aan die onwettige besit van 'n vuurwapen, kan hy gevangenisstraf of 'n boete opgelê word en onbevoeg verklaar word om 'n vuurwapen te besit.
Mnr. Roy Jankielsohn van die Demokratiese Alliansie (DA) sê die Regering gaan op hierdie manier van 500 000 wetsgehoorsame mense misdadigers maak. Hy sê daar is 'n gebrek aan geakkrediteerde opleidingsinstansies en te veel administratiewe struikelblokke wat mense verhinder om betyds aansoek te doen.
Visser sê hoewel die opleidngsgeriewe beperk is, het mense die hele jaar tyd gehad en hulle moes net vroegtydig met die hernuwingsprosedure begin het. "Agri SA het alles moontlik gedoen om sy lede by te staan. Mense moet dit nie tot die laaste oomblik los nie".
Vuurwapeneienaars wat vanaf 1 April tot 30 Junie verjaar, moet vanaf 1 Januarie volgende jaar tot 31 Desember hul wapenlisensies hernu, dié wat vanaf 1 Julie tot 30 September verjaar in 2007 en die res in 2008. Visser sê sodra 'n vuurwapeneienaar vir die hernuwing aansoek gedoen het, kry hy 'n skriftelike erkenning van ontvangs wat voldoende bewys is dat hy reeds aansoek gedoen het.
9 Desember 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24