|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Ná tien jaar van demokrasie is dit gepas dat die Regering en die Parlement kyk hoe ver die land op die pad na grondhervorming gevorder het en of die meganismes wat gekies is om grondbesit verteenwoordigend te maak, geskik was.
Só het me. Thoko Didiza, die Minister van Landbou en Grondsake, verlede week in die Parlement gesê toe sy 'n drie dae lange openbare sitting van die Portefeuljekomitee vir Landbou en Grondsake geopen het.
Die doel van die sitting was om die insette van 'n wye reeks belanghebbendes oor die pas van grondhervorming in die land te kry. Sowat 60 organisasies het belangstelling getoon, waarvan sowat 40 mondelinge voorleggings gemaak het.
Volgens die voorsitter van die komitee, mnr. Neo Masithela, wou die komitee reeds twee jaar gelede só 'n sitting hou om te kyk of die wette en programme wat aanvaar is, die nodige vrugte afwerp. Die komitee sal na afloop van die sitting 'n verslag met sy eie sienings en voorstelle opstel en aan die Parlement voorlê.
Didiza het aan die komitee gesê dit is onmoontlik om te bepaal of die vordering vinnig of stadig is, omdat daar geen ander lande wat dieselfde omstandighede gehad het as Suid-Afrika nie. Die staat kan homself net aan sy eie mikpunte meet.
Sy sê die ANC het reeds vóór 1994 besluit 30 % van die land se landbougrond moet binne vyf jaar herverdeel word. Omdat die nodige wetgewing en strukture eers in plek geplaas moes word en daar dringender behoeftes soos behuising en watervoorsiening was, is min vordering in die eerste vyf jaar van die ANC-regering gemaak. Teen 1999 is net 41 restitusie-eise afgehandel.
Sedertdien het veral die restitusieproses aansienlik versnel "vinniger as wat enigiemand kon voorsien," sê Didiza. Meer as 56 000 eise van die aanvanklike net minder as 80 000 is nou afgehandel.
Ander aspekte van grondhervorming en bemagtiging mag wel "stadig" verloop, maar volgens haar is die meeste projekte wat afgehandel is, volhoubaar.
Sy wou haar nie uitlaat oor oproepe vir 'n nasionale beraad oor grond nie, maar sê daar is talle voorbeelde, soos die Sondagsriviervallei en Makhado, waar belanghebbendes op distriksvlak bymekaar gekom het om na die plaaslike uitdagings en geleenthede vir grondhervorming te kyk. Hulle oplossings kan van waarde wees sou 'n nasionale beraad wel gehou word.
Masithela het gesê Suid-Afrika sal nie die Zimbabwe-pad met grondhervorming volg nie. Suid-Afrika se wette verhoed dit en die Regering beplan nie om dit te verander nie. As mense dié wette willens en wetens verbreek, vra die regering die betrokkenes, wat ook boere en plaaswerkers insluit, om hulle in hegtenis te neem.
Hiermee het hy gereageer op 'n uitlating van mnr. Matsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers' Union (Nafu). Matlala het gesê die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper het in ander lande nie gewerk nie, daarom moet Suid-Afrikaners hulle met grondonteiening vereenselwig.
"Sonder 'n vinnige Suid-Afrikaanse oplossing, gaan ons Zimbabwe se grondverhaal soos 'n koeimelkery laat lyk", het hy gesê.
29 Oktober 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24