|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Agri SA het dit verwelkom dat die Departement van Justisie uitstel verleen het vir die indiening van inligtingshandleidings oor boerderye al het die uitstel op die laaste nippertjie gekom.
Die handleidings, met voorgeskrewe inligting oor hul ondernemings, moes kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting voor einde Augustus by die SA Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien gewees het. Dit het 'n groot geskarrel veroorsaak. Enkele ure voor die spertyd verstryk het, het me. Brigitte Mabandla, Minister van Justisie, uitstel aan alle private ondernemings verleen tot 31 Desember vanjaar.
Daarna geld nog vyf jaar se uitstel vir private instansies wat aan spesifieke kriteria voldoen. In die geval van boere geld die uitstel van vyf jaar vir alle boerderye met 'n jaarlikse omset van minder as R2 miljoen en 'n werksmag van minder as 50.
Me. Annelize Crosby, regsverteenwoordiger van Agri SA, sê talle boere was nog onbewus van hierdie nuwe verpligting en sou hulle blootgestel het aan 'n boete of tronkstraf van tot twee jaar as die uitstel nie verleen was nie. "Boerderye as kleinsake-ondernemings is reeds oorlaai met 'n administratiewe las. Ons verwelkom die toegewing om die handleidings nou eers later in te dien."
Dié wetgewing, wat gemik is op mense se grondwetlike reg tot inligting, het op 9 Maart 2001 in werking getree, maar private maatskappye was tot 31 Augustus vrygestel daarvan om handleidings in te dien.
Die bepalings van die wet is ook op boere van toepassing.
Crosby sê Agri SA het 'n voorbeeld van 'n handleiding aan affiliasies beskikbaar gestel wat as grondslag vir die opstel van eie handleidings gebruik kan word.
9 September 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24