|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die verliese weens reproduksieprobleme by melkbeeste is nie net beperk tot die verlies aan kalwers nie. Na gelang van die oorsaak van die probleem kan dit verskeie ander nadelige gevolge hê, soos laer melkproduksie en verlengde bronstigheidsiklusse.
Reproduksieprobleme word deur die beesboer gesien as onvrugbaarheid of 'n lae kalfpersentasie, aborsies en die geboorte van gebreklike of doodgebore kalwers. Na gelang van die oorsaak kan een of meer van hierdie verskynsels gesien word. Die stadium waarin die embrio was toe dit aangetas is, sal ook die verskynsel beïnvloed.
Onvrugbaarheid sal gewaar word as die embrio nie aanheg nie of as resorpsie plaasvind (afsterwing van die fetus voor 42 dae ná bevrugting). As resorpsie voorkom, sal niks waarneembaar wees nie, want daar is nie 'n skelet nie. Koeie wat dragtig gelyk het, sal weer op hitte kom of sal endometritis (ontsteking van die baarmoedervoering) ontwikkel.
Aborsie is die afgooi van die fetus 42 tot 260 dae ná bevrugting. Die fetus is dan al taamlik ver ontwikkel en die boer sal gewoonlik die uitgewerpte fetus oplet of die vrugvliese sien uithang. Aborsies kan sporadies wees of kan in "storms" voorkom.
Doodgebore kalfies kom voor wanneer die fetus ná 260 dae sterf en gaan dikwels gepaard met moeilike geboortes.
Reproduksieprobleme veroorsaak nie net 'n geldelike verlies in die vorm van die kalf wat verloor word nie, maar ook die verlenging van die bronstigheidsiklusse (estrus-intervalle). Die koeie het 'n hittesiklus van 21 dae. Dit beteken dat indien bevrugting nie 16 dae ná ovulasie plaasvind nie, die koei weer vyf dae later op hitte sal kom. As 'n resorpsie of 'n aborsie vookom, sal die koei 'n verlengde bronstigheid-interval hê. Indien die koei laat aborteer, sal sy in laktasie kom, maar dit sal nie die volle 200 dae duur nie.
Reproduksieprobleme kan deur 'n wye reeks siektes veroorsaak word, soos bakteriese en virussiektes, veneriese besmetting en probleme ná kalftyd.
Nie-besmetlike oorsake van reproduksieprobleme is die volgende:
Beesbrucellose (besmetlike misgeboorte) en leptospirose is bakteriese siektes wat reproduksieprobleme kan veroorsaak.
Besmetting met Brucella abortus (brucellose) is die belangrikste oorsaak van reproduksieprobleme in Suid-Afrika. Dit veroorsaak aborsies, swakker melkproduksie, verlengde tussenkalfperiodes en verminder die waarde van vee. Mense kan brucellose opdoen deur besmette melk te drink, bemette kalfies of besmette fetusse of nageboortes te hanteer.
Brucellose word in 'n kudde ingebring deur 'n besmette dier. Miljoene Brucella-bakterieë word uitgeskei in die plasentale vloeistowwe wanneer die besmette dier aborteer of kalf. Die kalf of fetus en plasenta is bedek met Brucella-kieme en weiding kan maande lank besmet wees. In hoë reënvalgebiede of op besproeide weiding kan die organismes tot agt maande in die skaduwee oorleef.
Skoon kuddes wat besmet raak, wys aanvanklik aborsies teen 'n tempo van 30 % tot 70 % op vyf tot sewe maande van dragtigheid. Soms word swak kalfies gebore wat kort ná geboorte vrek. Daar is 'n hoë voorkoms van agtergeblewe nageboorte, metritis (ontsteking van die baarmoeder) en 'n verlies van 20 % in melkproduksie. Bulle kan onvrugbaar word weens besmetting.
Brucellose is al suksesvol uitgeroei in lande waar inenting alleen of saam met die slag van beeste goed gewerk het. Wanneer bloedtoetse wys dat 'n kudde skoon is, moet die boer seker maak hy koop slegs skoon diere.
Twee entstowwe is beskikbaar. Hulle werk goed as die gebruiksaanwysings deeglik gevolg word.
Leptospirose is 'n bakteriese siekte wat aborsies in beeste kan veroorsaak. Die siekte word soms in verband gebring met die aanhou van varke op dieselfde terrein as beeste. Die kiem dring die niere en plasenta van beeste in en veroorsaak aborsies en soms 'n sindroom wat net soos rooiwater kan lyk, ook met die rooi urien. Diere wat besig is om te herstel, kan maande lank nog ander diere besmet.
Die diagnose is gegrond op die isolasie van die kiem uit die niere van die geaborteerde kalfie, of deur bloedtoetse wat op die koeie gedoen kan word. Entstowwe teen die siekte is beskikbaar.
Virussiektes wat tot reproduksieprobleme lei, kom wydverspreid in Suid-Afrika voor. Die vernaamstes is die aansteeklike beesrinotrageïtis-virus (ABR) en virusdiarree by beeste (BVD).
ABR besmet gewoonlik die asemhalingstelsel van jong beeste, maar kan ook die geslagstelsels aantas. Dit veroorsaak die besmetlike pustulêre vulvovaginitis in koeie en verse, asook 'n besmetting van die skede van bulle.
Die virus kan die fetus aantas en aborsies op vier maande veroorsaak. Mummifikasie van fetusse kom ook voor. Die bevestiging van ABR as 'n oorsaak van aborsie kan gedoen word met die isolasie van die virus uit geaborteerde fetusse. Om aborsies weens dié virus te voorkom, moet verse verkieslik voor paartyd ingeënt word. Hulle moet daarna voor elke teelseisoen weer ingeënt word.
BVD kan op 'n plaas teenwoordig wees sonder om probleme te gee. Sekere soorte van die virus kan die dragtige koei besmet en beïnvloed dan die fetus op verskillende maniere. Dié invloed sal afhang van die stadium van dragtigheid toe die fetus besmet is.
Besmetting van die fetus in 'n vroeë stadium sal 'n kalfie gee wat soms heeltemal normaal lyk, maar permanent met die virus besmet is. Fetusse wat later besmet raak, sal geaborteer word of gebreklik wees.
Aborsies sal voorkom word as diere betyds met BVD-entstowwe ingeënt word. Die kalfies wat permanent besmet is, sal egter 'n belangrike en aanhoudende bron van besmetting bly. As BVD bevestig word as 'n oorsaak van aborsies in 'n kudde, moet alle diere getoets word om die permanent besmette diere te identifiseer en uit te gooi.
'n Kombinasie-entstof teen ABR/BVD is beskikbaar. Dit sal 'n kudde teen die ontstaan van permanent besmette kalfies beskerm. Lewende ABR- of BVD-entstowwe moet nie in dragtige beeste gebruik word nie. Om 'n inentingsprogram teen BVD/ABR aan die gang te sit, is betreklik ingewikkeld. Boere moet hul veearts nader vir hulp in dié verband.
Veneriese siektes ook 'n sondaar
Veneriese siektes van die bul sowel as die koei kan produksieprobleme by vleisbeeste veroorsaak. Die term veneries beteken dat die siekte met dekking oorgedra word en hier is die bulle van belang. Daar is twee vername veneriese siektes, naamlik campilobakteriose (vibriose) en trigomoniase.
Bulle is die draers van Trichomonas wat dan deur dekking oorgedra word. Talle koeie vat nie en aborteer soms. Die siekte-toestand kan totaal uitgeskakel word deur kunsmatige inseminering met saad van goedgekeurde bulstasies. As bulle gebruik word, moet hulle getoets word om te verseker dat hulle skoon is.
Campylobacter of vibriose veroorsaak onreëlmatige bronstigheidsiklusse, vertraagde bevrugting en sporadiese aborsies op vier tot sewe maande. Inenting kan gebruik word om die omvang van besmetting te verminder. In skoon kuddes moet verseker word dat net skoon bulle of skoon saad vir KI gebruik word.
Twee verskynsels wat ná kalftyd sigbaar word, metritis (ontsteking van die baarmoeder) en endometritis (ontsteking van die baarmoedervoering), word deur verskeie ettervormende bakterieë veroorsaak. Omdat behandeling daarvan verskil, moet duidelike onderskeid tussen die twee getref word.
Metritis word gekenmerk deur 'n rooi, stinkende uitloopsel uit die vagina omtrent twee weke ná kalftyd. Dit volg gewoonlik op aborsies wat gekompliseer word deur agterblewe nageboorte. Die besmetting kan so erg wees dat koeie se melkproduksie afneem. 'n Besmette koei kan vrek. Hierdie gevalle moet met antibiotika behandel word.
Metritis kan voorkom word deur setpille ná kalftyd. Handskoene moet altyd gebruik word om setpille in te sit.
Endometritis is besmetting van die baarmoeder met 'n dik, geel vla-agtige, maar byna reuklose uitloopsel. Die oorsaak is dikwels 'n onbehandelde metritis of metritis wat nie genoeg behandel is nie. Endometritis kan behandel word deur 'n prostaglandien-inspuiting. 'n Veearts sal hieroor die regte raad gee.
Deeglike ondersoek is nodig
As aborsies, doodgebore, swak of gebreklike kalfies gereeld voorkom, is nadoodse ondersoeke waardevol. Boere moet sulke materiaal bewaar en 'n veearts laat kom, of dit so gou moontlik na 'n veearts of 'n veterinêre laboratorium bring. Die fetus of dooie kalf moet nie gevries word nie en die hanteerder moet handskoene dra.
Hoewel dit soms moeilik is om die minder algemene oorsake van reproduksieprobleme te diagnoseer, is 'n deeglike ondersoek oor 'n lang tydperk die moeite werd weens die ekonomiese voordele van 'n suksesvolle diagnose.
Daar is ook minder algemene siektes en verskynsels wat voortplanting benadeel. Dit is die volgende:
2 Julie 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24