|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die verbod op die verhandeling van Argentynse koring op Safex moet bly, vra die Wes-Kaapse Koringforum.
Een van die belangrikste redes vir dié versoek is dat Argentynse koring nie aan plaaslike bakstandaarde voldoen nie, en die volgehoue verhandeling daarvan kan op die duur pryse verlaag. "Meulenaars sluit termynkontrakte op Safex en ontvang dan sertifikate vir Argentynse koring. Omdat hulle nie dié koring wil hê nie, is die logiese stap om dit aan die mark terug te verkoop. Dit het beslis 'n verlagende uitwerking op Safex-pryse," skryf prof. Herman van Schalkwyk, dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat, in sy voorlegging namens die Wes-Kaapse Koringforum aan die landboumarkte-afdeling van die JSE Securities Exchange.
Hoewel die Advieskomitee oor Landbouprodukte op aanbeveling van die Meulenaarskamer besluit het dat net Suid-Afrikaanse koring, Amerikaanse lente- en winterkoring, Kanadese lentekoring en Australiese koring op Safex verhandel mag word, was sekere Safex-lede ontevrede oor dié besluit. Op 13 Desember is aangekondig dat 'n finale besluit op 29 Desember, geneem sal word en dat Safex-lede tot 28 Desember kommentaar kan lewer.
In dié aankondiging skryf mnr. Rod Gravelot-Blondin, hoofbestuurder van die landboumarkte-afdeling van die JSE Securities Exchange, dat die besluit oor die oorsprong van produkte wat op Safex verhandel word, op gehalte gegrond moet word, en dat prys, kommersiële of likiditeitsoorwegings nie in aanmerking geneem sal word nie. Die besluit sal die kontrakte van September en Desember 2005 raak.
Van Schalkwyk sê die meulenaars wil nie meer termynkontrakte sluit nie omdat hulle nie weet of die produk wat hulle gaan ontvang aan hul vereistes sal voldoen nie. "Dit dui daarop dat ons graderingstelsel nie die enigste maatstaf vir die vergelyking van koring moet wees nie, en dat dit dalk onvoldoende vir ons behoeftes is."
Hy sê onsekerheid in die koringmark het daartoe gelei dat selfs die spekulante hulle aan die mark onttrek. "Dit benadeel die likiditeit van die mark en laat bedenkinge oor Safex as 'n ware bepaler van markpryse. Dit word beklemtoon deur die feit dat kopers weet wat hulle gaan kry en hoër pryse betaal deur buite Safex te verhandel."
'n Ondersoek na die doeltreffende werking van die vrye mark vir koring in die Wes-Kaap is onlangs deur die Wes-Kaapse Koringforum aangevra. Prof. Van Schalkwyk, wat die ondersoek doen, sê die ondersoek behoort teen einde Maart afgehandel te wees.
7 Januarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24