Verhandeling op Safex 'nie poker'

 

Graan SA sê hoewel hy die versekering gekry het dat die reëls van Safex (die afgeleide landboumark op die JSE) nie oortree word nie, is hy bekommerd oor verhandelingsaksies op dié mark.

Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê Graan SA het reeds verhandelingsaksies van sommige betrokkenes geïdentifiseer wat die indruk wek dat die mieliemark gemanipuleer word.

"Omdat die integriteit van die Safex-kontrakte en die rol wat Safex in die prysvormingsproses van mielies speel, vir produsente uiters belangrik is, is hierdie saak vir ondersoek na die Raad op Finansiële Dienste en die bestuur van Safex verwys."

Ferreira se terugvoer van albei instansies was egter dat die reëls van Safex nie oortree word nie en dat die aksies nie op enige markmanipulasie dui nie. Graan SA was egter nie tevrede met die uitslag nie. Die organisasie het derhalwe verder met die bestuur van Safex en deelnemers aan die mark gepraat.

Dr. John Purchase, hoofbestuurder van Graan SA, sê 'n verhandelingstrategie waardeur 'n groot aantal aanbiedinge aan die koop- of verkoopkant gemaak word en dan voor verhandeling kan plaasvind, onttrek word, kan tog die indruk laat dat die mark doelbewus gemanipuleer word. "Hoewel geen wet of reël wat tans geld, oortree word nie, dink ons dit tas die integriteit van Safex aan.

"Die indruk word gewek dat daar pogings tot manipulasie is en mense verloor hul vertroue. Graan SA sal graag wil sien dat só 'n verhandelingstrategie deur een of ander maatreël ontmoedig word."

Ferreira sê Graan SA is terdeë bewus van die belangrike rol wat spekulante in die Safex-kontrakte speel, maar is bekommerd dat aksies wat pryse teen die heersende grondliggende faktore en veral oor lang tydperke op en af laat beweeg, nie bevorderlik vir die plaaslike produksie van kommoditeite soos mielies is nie.

"Mielieverhandeling op Safex kan nie in 'n pokerspel ontaard nie. Dit is alle belanghebbendes wat hul bestaan uit die mieliemark maak, se plig om toe te sien dat, gegewe die basiese beginsels van 'n vryemarkstelsel, die integriteit van die Safex-kontrakte as verhandelingsinstrument te alle tye bo verdenking bly."

Mnr. Willem van der Merwe, 'n handelaar van RMD Finansiële Dienste, sê daar is baie bespiegelinge oor manipulasie in die mark. "Safex is 'n volwasse mark wat doeltreffend funksioneer en nie oop is vir manipulasie nie. Die JSE hou ook 'n wakende oog op alle transaksies. Veral vanweë die grootte van die mielie- en koringmark kan dit nie gemanipuleer word nie."

Landbouweekblad, 1 Desember 2006

0