Verskeie vrugtesapprodukte word deesdae plaaslik vervaardig. Dit help met die skepping van inkomste in lande wat deur armoede in die gesig gestaar word.
In Suid-Afrika is waardetoevoeging deur die verwerking van landbouprodukte uitsluitlik in die sogenaamde eerste ekonomie gesetel. Produsente in die platteland kan om verskeie redes nie hierdie potensiële verspreidingskanale vir hul vrugte benut nie. Selfs al is dit moontlik, sal die waardetoevoegingsbedrywighede nie op die platteland plaasvind nie.
'n Soortgelyke toestand heers in talle ander Afrika-lande. Malawi, byvoorbeeld, is 'n land met 'n oorvloed vrugte, maar hy voer die meeste van sy vrugteprodukte in.
Moderne, Eerstewêreld-tegnologie, soos aseptiese verpakking, plaas ekonomiese vrugtesapverwerking buite die bereik van klein ondernemings. Die lae arbeidsbehoefte van sulke prosesse maak dit ook minder aantreklik in onderontwikkelde gebiede. Om hierdie redes het Infruitec-Nietvoorbij etlike jare gelede 'n projek oor die ontwikkeling van geskikte kleinskaalse versappingstegnologie en -toerusting voltooi.
Die instituut het hitte-uitruilers vir die blansjering van pulp en die pasteurisasie van sap ontwikkel. Dit het nie stoom nodig nie, wat die koste van die toerusting beduidend verlaag. Hoewel die produksiekapasiteit baie klein is (100 liter per uur, oftewel 400 botteltjies van 250 milliliter elk), is dit ekonomies haalbaar.
Hierdie tegnologie is gegrond op ouer pasteurisasie- of warmvultegnologie wat oral gebruik is voordat die aseptiese sapverwerkingtegnieke ontwikkel is. Hierdie ou tegnologie word steeds op beperkte skaal in Europa en Suid-Afrika gebruik. Die toepassing daarvan laat die meeste produkte met 'n raklewe van meer as agt maande as dit nie verkoel word nie. Indien 'n reeks produkte heeljaar gewaarborg kan word, maak volhoubare inkomsteskepping en werksgeleenthede sodanig verwerkingsaanlegte baie aantreklik.
'n Reeks produkte - tamatiepulp en piesangpuree en -nektar - is reeds suksesvol in só 'n aanleg vervaardig. Saam met Commercial Products from the Wild, 'n navorsingskonsortium, is die potensiaal van verskeie inheemse vrugte (maroela, kei-appel, noem-noem en Uapaca) vir die bereiding van pulp en vrugtedrankies ook al ondersoek.
Die afgelope paar jaar is daar baie moeite gedoen om die potensiaal van hierdie tegnologie deur werksessies onder moontlike benutters daarvan se aandag te bring. Dié werksessies het aan die deelnemers die geleentheid gebied om eerstehandse, praktiese ondervinding op te doen. Dit is plaaslik, in ander Afrika-lande en selfs op vier Karibiese eilande aangebied. Werksessies wat in Nelspruit aangebied is vir groepe uit plattelandse gebiede in Limpopo en Mpumalanga was besonder suksesvol.
Tans word twee eenhede in Suid-Afrika gebruik. Die een word deur 'n kommersiële boer vir die produksie van koejawelpulp gebruik. Die tweede is met sukses in KwaZulu-Natal gebruik. In Namibië word 'n eenheid gebruik om maroelaprodukte te vervaardig, terwyl twee eenhede in Nigerië vir die produksie van tamatiepulp gebruik word.
Die minister van landbou en voedselsekuriteit in Malawi toon ook belangstelling in die proses. 'n Aanleg wat op hierdie tegnologie gegrond is, is verlede jaar deur die pynappel-produsentevereniging in die Dominikaanse Republiek in werking gestel.
Die instituut is tans besig om twee versappingsinkubators op te stel. Daar sal begunstigdes opgelei word om self sodanige aanlegte te begin. Die eenheid in Mpumalanga word deur die LNR gefinansier, terwyl die Venda-aanleg deur die Departement van Landbou gefinansier word. Sodra hierdie eenhede ten volle werk (mense deurlopend opgelei word), sal hulle beslis 'n bydrae tot voedselsekuriteit en die skep van inkomste lewer.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007