|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
'n Boer van die Springbokvlakte is moontlik die eerste teiken van 'n nuwe soort vinkplaag wat verwoesting saai.
Dié gebied is welbekend vir die rooibekvink wat jaar ná jaar deur die Departement van Landbou bestry word omdat hulle groot skade aan gewasse aanbring. Dié voëls word beskryf as 'n migrasieplaag wat van Augustus tot Mei elke jaar onder meer van Botswana, Zambië en Zimbabwe kom.
Mnr. Hardis Pretorius, 'n graanboer van die Springbokvlakte, sê hy het verlede jaar 'n ander soort vinkplaag in sy sonneblomland opgemerk en die voëls het vanjaar teruggekeer. Pretorius sê die vinke wat nou skade berokken, blyk die bontrugwewer te wees. Sowat die helfte van sy sonneblomme van 100 ha is reeds verwoes en daarby ly van sy medeboere ook skade.
Volgens mnr. John Tladi, assistentdirekteur by die Departement van Landbou, is die gewone praktyk dat 'n boer die departement in kennis stel van die plaag en dat die boer self vasstel waar die vinke snags slaap. Tladi sê só 'n plaag kan uit tot 3 miljoen vinke bestaan. Die swerm voëls word met 'n chemiese middel gespuit, maar as die omgewing gevoelig is vir sulke middels, word plofstof ingespan.
Pretorius sê die nuwe soort vink maak dit moeilik om vas te stel waar die voëls snags slaap en selfs broei. Hy sê wat hy sover vasgestel het, is dat die vinke nie wag totdat die sonneblomme droog is nie, maar eet dit terwyl dit nog nat is.
15 Julie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24