|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die spoor van verwoesting wat die onlangse brande in Mpumalanga en KwaZulu-Natal gelaat het, word hier uitgebeeld. Honderde stuks vee het doodgebrand en duisende hektare weiding het in die slag gebly.
Hartverskeurend as jy hoor hoe hulpelose mense doodgebrand het; hartverskeurend as jy sien hoe honderde vreesbevange dragtige ooie teen 'n kampdraad verkool het; hartverskeurend as jy 100 km ver deur 'n gebied ry waar geen dier sonder hulp kan oorleef nie.
Dít is die enigste manier waarop 'n mens die verwoesting kan beskryf ná die afgelope paar weke se brande in KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Die brande was wreed. Die gevolge dalk nog erger.
Net in die Paulpietersburg- en Lünenburggebied was daar 'n week gelede 23 000 beeste, 10 000 skape, 2 400 bokke en meer as 2 000 stuks wild sonder enige voer en weiding. Agt mense het doodgebrand en 341 plaaswerkergesinne en kommunale boere se huise het afgebrand.
"Ek kan nie glo dat daar so min mense dood is nie. As jy die werklike omvang van die brande aanskou, is dit eintlik ongelooflik," sê mnr. Harald Niebuhr van die plaaslike boerevereniging wat in beheer van die vereniging se noodsentrum is. "Die tragiese verhale is legio, maar 'n mens probeer maar op die werklikheid van die noodsituasie konsentreer en hulp verleen sover moontlik."
Mnr. Bertus Burger van Groenvlei, by Wakkerstroom, het 673 dragtige ooie en meer as 2 000 bale voer in die brand verloor. Ek praat met sy vrou, Joanna, waar sy op die plaas probeer om pasgebore lammers langs die koolstoof aan die lewe te hou. Buite ontferm Burger hom oor die oorblywende diere wat moet vreet.
"Jy weet, ek sou drie keer eerder my huis sien afbrand het as om al hierdie dooie diere te sien. 'n Huis kan 'n mens weer herbou," sê sy later toe ons tussen die honderde verkoolde ooie staan.
Die Burgers is maar een van tientalle gesinne wat die trauma van die brande ervaar het.
Terwyl ek verder deur die gebied ry, maal die woorde van die bekende De la Rey-liedjie in my kop: "... en my huis en my plaas tot kole verbrand sodat hulle ons kan vang, maar die vlamme en vuur brand nou diep, diep binne my." Ek bid dat hierdie 'n eenmalige natuurramp was en nie die doelbewuste werk van mensehande nie.
Kyk ook foto's van die brande. Klik hier.
Landbouweekblad, 17 Augustus 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24