|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) beoog om oor die volgende agt maande hulp te verleen aan sowat 3,3 miljoen Zimbabwiërs wat deur ernstige voedselnood in die gesig gestaar word.
Die WVP het 'ndringende beroep op skenkers gedoen om by te dra tot die sowat $118 miljoen (ongeveer R837,8 miljoen) wat hiervoor nodig is.
"Honderde duisende Zimbabwiërs se kosvoorrade is uitgeput en miljoene meer sal teen die einde van die jaar van humanitêre bystand afhanklik wees," het mnr. Amir Abdulla, die WVP se direkteur in Suider-Afrika, gesê.
"Die WVP beoog om meer as tien keer die huidige aantal mense oor die volgende agt maande te voed en só die vrees vir grootskaalse hongersnood af te weer. Om dit te doen, sal ons meer geld nodig hê - en ons het dit onmiddellik nodig."
Die program het reeds sowat 138 000 metrieke ton kos beskikbaar, maar kort nog 207 000 ton graan en ander kommoditeite om sy hulpverleningspoging van nou tot April volgende jaar (die volgende groot oes) te onderhou.
As ekstra geld nie na vore kom nie, sal die WVP se voorraad teen September begin opdroog en heeltemal uitgeput wees teen Desember - wanneer die krisis 'n hoogtepunt sal bereik.
Die swak oes, tesame met Zimbabwe se verslegtende ekonomiese probleme, het duisende gesinne met voedseltekorte gelaat. Die situasie word vererger deur armoede, hiperinflasie en MIV/vigs.
Sonder hulp sal weerlose gesinne gedwing word om riskante oorlewingsmaatreëls te volg, soos om giftige wilde kos te eet, hul oorblywende bates van die hand te sit, seks vir kos te ruil en die grens na buurlande onwettig oor te steek.
Landbouweekblad, 07 Augustus 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24