|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Plaaslike en internasionale voedselinflasie het jaar-op-jaar in Oktober afgeneem, luidens die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR) se jongste verslag oor voedselpryse. Statistieke Suid-Afrika sê die verbruikersprysindeks vir kos was in Oktober vanjaar 16,7% vergeleke met die jaar-op-jaar-syfer van 17,6% vir September.
Die jaar-op-jaar-styging vir mielieprodukte was 7,62%, terwyl die kommoditeitsprys vir dié graan met 1,94% gedaal het. Dié daling behoort tot laer pryse vir mielieprodukte te lei. Die styging in koringpryse blyk ook te verlangsaam. Die pryse van koringprodukte het jaar-op-jaar met 37,89% gestyg. Dit is laer as die styging van 45,36% wat in Augustus deur die NLBR-verslag vermeld is.
Suiwelprodukte se pryse styg ook stadiger met 'n gemiddelde groei van 7,85%. Dit is noemenswaardig minder as die styging van 17,9% wat in Augustus behaal is. Vars vleis se prys het jaar-op-jaar met 12,79 % gestyg en verwerkte vleis met 22,35%. Vars en verwerkte groente het met onderskeidelik 10,63% en 16,44% gestyg - albei laer as die Augustus-syfer. Vrugtepryse het met gemiddeld 13,99% gestyg.
Alle soorte voedsel op die platteland het met meer as 6% duurder geword. Verbruikers in landelike gebiede het R10,47 meer betaal vir produkte wat deur die NLBR gemonitor word as hul eweknieë in stede. In Oktober verlede jaar het hulle R8,92 meer betaal.
1 Desember 2008
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24