Voedselkrisis groter in Zim

 

Swak oeste, tesame met die verslegtende ekonomiese toestand in Zimbabwe, sal veroorsaak dat 'n derde van dié land se bevolking van sowat 12 miljoen vroeg in die nuwe jaar voedselhulp sal benodig.

Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel en Landbou-organisasie (VLO) en die Wêreldvoedselprogram (WVP) staar 2,1 miljoen mense binnekort ernstige voedselkorte in die gesig. Dié getal sal toeneem tot 4,1 miljoen in die eerste drie maande van volgende jaar.

'n Geraamde 352 000 ton graan en 90 000 ton ander voedsel sal nodig wees om in basiese behoeftes te voorsien.

Die toestand word toegeskryf aan droogte, te min kunsmis, brandstof en trekkers, besproeiingstelsels wat in duie gestort het en onekonomiese pryse wat deur die regering afgedwing word.

Landbouweekblad, 15 Junie 2007

0