Von Abo-saak uitgestel

 

Mnr. Crawford von Abo se poging om beskerming van die Regering vir sy beleggings in Zimbabwe in die Grondwethof te kry, is vertraag. Dié saak is tot 28 Februarie 2009 uitgestel om die Regering tyd te gee om verdere dokumente aan die hof voor te lê.

Die dokumente sal beskryf hoe die Suid-Afrikaanse Regering Von Abo se belange in Zimbabwe sal beskerm. Die Pretoriase Hooggeregshof het vroeër vanjaar beveel dat die boer 'n grondwetlike reg tot beskerming het en dat 'n verslag voorgelê moet word om te wys wat aan die kwessie gedoen word. Die Regering het gister teen dié bevel geappelleer.

Mnr. Patric Mtshaulana, die Regering se regsverteenwoordiger, het gesê die staat wil só 'n verslag indien, maar het meer tyd nodig om dit af te handel. Mnr. Max Hodes, Von Abo se regsverteenwoordiger, het die versoek teengestaan.

Hy sê sy kliënt is in die Grondwethof om te bevestig dat die Pretoriase Hooggeregshof se bevel dat die voormalige president, mnr. Thabo Mbeki, se optrede teen die land se Grondwet ingedruis het, waar is.

Bron:

SABC News

The Times

12 November 2008

0