|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Dit sal Suid-Afrikaanse koringboere, wat aan wêreld-markkragte uitgelewer is, bevoordeel om internasionale pryse en wisselkoerse dop te hou en op die hoogte te bly van produksietoestande in die res van die wêreld.
Vanjaar se koringprys sal op die invoerpariteitsvlak bly vanweë Suid-Afrika se klein koringvoorraad, meen kenners.
As gevolg van die droogte in die Wes-Kaap het Suid-Afrika die swakste nasionale koringoes sedert deregulering gehad. Die Wes-Kaapse graanoes was die kleinste sedert 1978.
Een van die gevolge van dietekort sal wees dat 900 000 ton tot 1 miljoen ton koring ingevoer sal moet word.
Om 'n bemarkingstrategie te formuleer in toestande van onbekende internasionale pryse en wisselkoersskommelinge benodig boere tydige en betroubare markinligting en 'n deeglike bepaling van hul verwagte produksiekostestruktuur vir die komende seisoen, sê mnr. Jaco Grobbelaar, landbou-ekonoom van Commodity Trading House op Stellenbosch.
Hy waag 'n paar algemene voorspellings aan die hand van internasionale en plaaslike toestande.
"Die internasionale eindvoorraad vir die seisoen 2003/04 word beraam op 127 miljoen ton wat die kleinste in 25 jaar is; hoofsaaklik as gevolg van laer voorrade in Indië, Rusland en die Oekraïne. Die vernaamste vyf tradisionele uitvoerders (Amerika, Kanada, Argentinië, Australië en EU-lande) se eindvoorraad sal sowat 35 miljoen ton wees; die laagste sedert 1996."
As gevolg van swakker produksietoestande in die voormalige Sowjet-unie, die Europese Unie en China, is die uitvoer uit Amerika 35 % meer as in die vorige bemarkingsjaar.
Grobbelaar meen vanweë laer internasionale koringvoorraadprojeksies kan die gevolgtrekking gemaak word dat pryse op die huidige vlakke sal bly tot en met oestyd, wat Junie tot Julie in die Noordelike Halfrond is. "Die sensitiwiteit vir ongunstige toestande, soos buitengewoon nat of droë toestande, is hoog en sal lei tot prysstygings op kort termyn."
Die impak van dieinternasionale neigings op die Suid-Afrikaanse koringmark behoort die plaaslike prys te ondersteun.
"Verdere stygings in internasionale koringpryse is nie onwaarskynlik nie, veral as gevolg van China se klein voorraad. Indien die verwagte produksie behaal word, kan pryse daal weens sterk internasionale uitvoermededinging en groter as verwagte voorrade. 'n Swakker dollar kan die Amerikaanse uitvoer stimuleer wat op sy beurt pryse sal ondersteun."
Grobbelaar sê Suid-Afrika se voorraadposisie en die verwagte swakker wisselkoers in die eerste kwartaal sal plaaslike pryse ondersteun, veral indien internasionale pryse hoër is.
"Plaaslike graan behoort dus pryse te behaal wat gelyk is aan die invoerpariteit. Pryse sal slegs noemenswaardig styg indien die prys van harde rooi winterkoring verder styg en die rand redelik vinnig sou verswak tot ongeveer R8 per dollar.
"Diewaarskynlikheid bestaan wel, maar die kontantprys vir koring in Suid-Afrika behoort tussen R1 580 en R1 850 per ton op kort termyn vir die tydperk tot en met planttyd te bly. Die neiging is egter sterk hoër."
Moutgarspryse reageer wêreldwyd op dieselfde vraag- en aanbodfaktore as koring, sê mnr. Charles Coe, handelsbestuurder (broumateriale) van die Suid-Afrikaanse Brouery. Hy sê hulle hoop om teen die einde van Maart 'n prysvoorstel aan produsente te doen. Die invoerpariteitsprys vir moutgars, die netto produsenteprys van koring en die produksiekoste van gars is alles faktore wat in berekening gebring word wanneer 'n prys vir moutgars bepaal word.
Die seisoen 2003/04 het uitstekende kanola-oeste in die Suid-Kaap gelewer. Die oppervlakte onder kanola het met sowat 34 % tot sowat 43 300 ha in die Wes- en Suid-Kaap toegeneem in vergelyking met die vorige jaar.
Volgens mnr. Kellie Becker, bedryfshoof van Southern Oil Limited (SOILL) op Swellendam, was die produsenteprys vir kanola die afgelope seisoen R1 800 per ton. Die SOILL se direksie het 'n agterskot goedgekeur. Die bedrag wat uitbetaal sal word, moet nog bepaal word.
Becker sê hulle het die afgelope seisoen alle kanola gekoop wat hulle kon kry. Volgens hom is die olie-inhoud van Suid-Afrikaanse kanola laag en hoewel hulle nog nie 'n premie vir hoër olie-inhoud betaal nie, werk hulle aan só 'n betaalstelsel.
Die huidige produksie is genoeg om in die binnelandse vraag na olie te voorsien.
Die SOILL is optimisties oor die plaaslike bedryf, en wil sy verwerkingsaanleg se vermoë van 25 000 ton in 2005 te verdubbel. Die bestaande volpers gaan 'n voorpers word en 'n chemiese ekstraksie-eenheid wat olie doeltreffender kan onttrek, sal geïnstalleer word.
Volgens Becker is daar ruimte vir markontwikkeling. Nadat Agri-Inspec onlangs weer die verkopers van nagemaakte kanola-olie vasgetrek het, het hulle heelwat werk in die mark te doen. "Daar is 'n paar ongesofistikeerde spelers in die mark wat die beeld van kanola-olie skade doen."
In die jongste uitgawe van Lupino, nuusbrief van die lupienbedryf, skryf mnr. Dirk Hanekom van die Proteïennavorsingstigting op Elsenburg dat daar ongeveer 8 000 ha soetlupien in die Wes- en Suid-Kaap gedurende die 2003-seisoen gevestig is. Dit is sowat 2 000 ha minder as in 2002 en sowat 6 000 ha minder as in 2001. "Die redes vir die afname in soetlupienproduksie is waarskynlik die probleem van antraknose by breëblaarlupien en die oorskakeling na wisselbougewasse, soos bitterlupien en kanola."
Saadopbrengste van 1,3 ton tot 1,8 ton per hektaar is in die Rûens en Suid-Kaap behaal. In die Swartland is lupienproduksie erg geknou deur die droogte en bykans 90 % van die aanplantings is teen Junie as weiding gebruik.
12 Maart 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24