|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die Minister van Waterwese en Bosbou, me. Buyelwa Sonjica, sê in gebiede met 'n watertekort moet eers genoeg water vir huishoudelike gebruik bewaar word voordat besproeiingsboere se belange in aanmerking kom.
Buiten die Komati-gebied in Mpumalanga waar streng beperkings op besproeiingsboere geld, voorsien sy dat besproeiing binnekort in ander droogtegeteisterde gebiede ook verbied kan word as genoeg reën nie verligting bring nie. Sy het gesê daar sal in die toekoms na nuwe tegnologie vir besproeiing, soos drupbesproeiingstelsels, gekyk moet word om water te bespaar.
"Suid-Afrika is een van die 30 droogste lande ter wêreld en mense moet altyd water oordeelkundig en spaarsamig gebruik." Sy het in Pretoria gesê ondanks goeie reën die afgelope tyd oor dele van die land, is daar steeds 'n droogtekrisis in verskeie provinsies.
"In groot dele van die land was die reënval in Desember meer as gewoonlik, maar oor 'n langer tydperk gemeet is dit heelwat minder as die gemiddeld." Sy sê die Noord-Kaapse regering het versoek dat dié provinsie as 'n rampgebied verklaar moet word en in die meeste provinsies is daar waterbeperkings.
Sonjica sê 'n groot kwelling vir haar departement is dat daar nie rekenskap is vir 40 % van water wat in stedelike gebiede verskaf word nie. "Êrens tussen die verskaffers en verbruikers gaan dit verlore."
Mnr. Mike Muller, direkteur-generaal van die Departement van Waterwese en Bosbou, sê van die meeste water gaan verlore weens gebarste pype en wateraansluitings sonder meters by plekke soos boupersele. Net in die Rand Water-gebied is die jaarlikse skade aan water wat só verlore gaan tot soveel as R300 miljoen. Die departement probeer om saam met plaaslike owerhede te werk om infrastruktuur vir watervoorsiening op te knap en te onderhou.
Die gemiddelde inhoud van die grootse opgaardamme in die land was verlede week 62 %. In die Wes-Kaap is damme net 41 % vol en in Gauteng 37 %. Groot damme in Gauteng, soos die Vaal- en Sterkfonteindam, se inhoud word egter aangevul deur die Lesotho Hooglandskema.
4 Februarie 2005
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24