|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Vleispryse het in die buiteland gestyg. Suid-Afrika se boere sal in die nuwe jaar hierdeur bevoordeel word dit is as die weer saamspeel én reën die droogte se greep breek.
Dit is nie dat 2004 vir die land se bees-, skaap- en varkboere 'n buitengewoon moeilike jaar was nie. In die algemeen was die sakeklimaat bestendig. Dit lyk in dié stadium nie of sake in 2005 veel gaan verander nie - dit sal beslis bestendig wees, sê mnr. Manie Booysen, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic).
Wat hom kwel, is die beperkte weidingsvermoë. Booysen sê oorbeweiding is 'n probleem in ál nege provinsies. Wanneer die reën lank wegbly, is di´t die oorbeweide gebiede wat eerste en die swaarste deur 'n droogte getref word.
Verlede jaar het die droogte boere gedwing om hul vee te slag. Die ooraanbod van vleis in die mark het veroorsaak dat pryse 'n ruk lank onder druk was.
Dit gaan nou beter en dit sal vir 'n groot deel van 2005 só wees. Die prys van beesvleis is sowat 12 % hoër as 'n jaar gelede, terwyl die prys van skaapvleis en speenkalwers omtrent 8 % hoër is as die vorige jaar. Die produsenteprys van klas A2 beesvleis was in Oktober R13,95/kg teenoor R12,35/kg dieselfde tyd verlede jaar. Net só was die produsenteprys vir speenkalwers R8,25/kg in Oktober, vergeleke met R7,66/kg 'n jaar tevore.
'n Plaaslike en internasionale tekort aan skaapvleis hou die prys hoog en dié vleis word nie meer ingevoer nie. In Oktober vanjaar was die produsenteprys van lamsvleis R24,00/kg teenoor R20,50/kg die vorige jaar.
"In die volgende ses maande gaan die prentjie dieselfde wees. Dit is 'n gunstige situasie. Die vraag sal bestendig wees en die koper sal die markprys bepaal."
Booysen sê plaaslike produsente gaan tog voordeel trek uit die internasionale situasie van stygende pryse weens droogte in sekere wêrelddele. Australië en Nieu-Seeland het twee jaar gelede 'n ernstige droogte beleef waarvan hulle nog nie herstel het nie. Dit is juis dié situasie wat skaapvleis plaaslik en internasionaal duurder maak.
Vir die plaaslike boere beteken dit dat skaapvleis byvoorbeeld nie sommer maklik ingevoer gaan word en binnelandse pryse onder druk plaas nie. Dit bring mee dat produsente goeie prysstygings kan ervaar.
En selfs plaaslik het die weer tot dusver nog nie goed saamgespeel nie, meen Booysen. "Dit het net kol-kol gereën en ál die provinsies is bekommerd oor die droogte. Maar daar is genoeg voorraad in die voerkrale vir die huidige seisoen."
Mnr. Gerhard Schutte, bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê klimaatstoestande sal in 'n groot mate voorskryf hoe die bedryf in die nuwe jaar sal presteer.
Hy sê wat die internasionale sake betref, lyk dit eerder beter as slegter en dat daar werklik 'n beter tyd vir boere voorlê as in 2004. Met die rand wat 'n hernieude kraglopie ondervind, sal vleisverwerkers dit beter vind om vleis in te voer, maar vir vleisuitvoerders kan dit minder winsgewend wees.
Mnr. Dave Ford, uitvoerende hoof van die Voerkraalvereniging, sê met die rand wat so sterk is, gaan die probleem eers kom wanneer Amerika sy verbod op vleisuitvoer lig en hulle probeer om verlore markte terug te wen.
Schutte sê die bedryf het die afgelope tyd baie moeite gedoen om onwettige invoer te stuit. Hy sê dit is waar dat Suid-Afrikaanse rooivleis uiters gewild is, maar die huidige wisselkoers verhinder dat uitvoer op 'n groot skaal plaasvind.
Om dié rede meen die RPO in die nuwe jaar sal meer op die plaaslike mark gefokus word. Dit is daarom vir die vleisbedryf kommerwekkend dat 'n groot getal Suid-Afrikaners meen hulle is nie seker of die vleis wat hulle koop, veilig is nie.
Booysen sê 'n omvattende ondersoek na verbruikers se indrukke toon dat tot 65 % van verbruikers in Suid-Afrika sê hulle is bekommerd oor die veiligheid van vleis. Dit is 'n probleem, erken hy, want as verbruikers nie glo in die produk wat aan hulle bemark word nie, kan dit dalende verkope en daarmee dalende winste beteken.
"Niemand verander die indruk nie," sê Booysen. Maar wie se verantwoordelikheid is dit? "Dit is die totale bedryf en die staat se verantwoordelikheid. Dit is moeilik om dié indruk by verbruikers te verander. Dit is belangrik dat die bedryf homself teen sulke indrukke beskerm. Die bedryf kan help, maar die Regering moet sorg vir die sentrale beheer van slagplase om veiligheid te verseker. Hier moet provinsiale regerings die polisiëring doen."
Hy sê dit is juis die afwesigheid van slagplase in landelike gebiede wat 'n geleentheid bied vir bosslagters - 'n verskynsel wat Samic ten sterkste veroordeel.
Ford stem saam. Hy sê daar is kansvatters wat die regulatoriese stelsel probeer omseil en só die verbruiker en sy gesin in gevaar stel deur onhigiëniese produkte te verkoop. "Dit gaan 'n toenemende probleem word en ons het staatshulp nodig om dit te stuit."
Schutte sê 'n hoogtepunt van 2004 was die konsensusbesluit in die bedryf vir die implementering van 'n statutêre heffing. Dit is nou juis met dié heffing wat die bedryf se beeld verbeter kan word.
"Indien die heffing in 2005 gei¨mplementeer kan word, sal dit die weg baan vir die bedryf om onder meer groter verbruikersvertroue in rooivleis te vestig. Ongunstige verbruikersindrukke ten opsigte van higiëne, gehalte en gesondheidsaspekte is tans 'n bekommernis in die rooivleisbedryf.
"Die probleme kan sinvol aangepak word en die voorgestelde statutêre heffing sal 'n belangrike bydrae lewer om die vermoë te skep om dit te kan doen. Uiters gunstige wetenskaplike resultate wat die gesondheidsaspekte van rooivleis ondersteun, is nou beskikbaar en dit is belangrik dat die verbruiker daaroor ingelig word."
Schutte sê die RPO meen dat die bedryf hom in die jaar wat voorlê sterk op die plaaslike verbruiker moet toespits om markaandeel uit te brei. "Die plaaslike mark bly die belangrikste," sê hy.
Sekerlik een van die grootste uitdagings wat die nuwe jaar - nie net vir die vleisbedryf nie, maar vir die hele landbou - inhou, is swart ekonomiese bemagtiging. Gesprekke word gevoer oor 'n finale handves vir bemagtiging in die landbou, bekend as AgriSEB.
Booysen sê op boerevlak kan die bedryf help met die opleiding van swart opkomende boere. Hulle kan ook help met mentorskapprogramme, fasilitering en dies meer, maar die grootste knelpunt - toegang tot grond - is die Regering se verantwoordelikheid.
"In die res van die ketting is dit net banke en geld wat betrokke is. Dit is een eienaar wat verkoop, finansiering word verkry en 'n nuwe eienaar kom in. Aan die besigheidskant sal daar nie probleme wees nie. Ons is deeglik ingelig om ten volle aan plaaskant ondersteuning te kan bied. Van ál die lewende hawe in die land is 47 % in die hande van die swart boer - kommersieel en opkomend. Dié diere is almal kommersieel aanwendbaar as dit kommersieel beskikbaar is."
Schutte sê die RPO is optimisties oor die jaar wat voorlê, veral noudat ekonome sê dit gaan goed met die land. Dit is iets waaruit die vleisbedryf beslis sal voordeel trek.
Booysen beaam dit. Maar die weer sal die laaste sê hê.
17 Desember 2004
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24