|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 04:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 82% |
| Wind: |
Die heersende El Niño-weerpatroon kan in die winter omswaai na ’n La Niña-fase, met goeie vooruitsigte vir reën vir die komende somer.
Hoofnuus
Goeie neerslae is moontlik oor veral die suidwes-Kaap vir die tydperk vanaf 19 tot 21 April. ’n Volgende frontale stelsel kan vanaf 29 April weer reën veroorsaak.
Verdere reën is ook moontlik oor die Somerreëngebied vanaf ongeveer 25 April. Min of geen reën word egter verwag oor die westelike dele (Noord-Kaap) nie.
Geen swaar ryp word verwag tot ten minste die einde van April nie.
1. Die afgelope twee weke
Die reënpatroon van die afgelope tyd is steeds gehandhaaf met reën wat rondom die naweek van 17 en 18 April oor die sentrale tot oostelike dele van die land voorgekom het. Neerslae van tot 70mm wat gepaardgegaan het met hael, het in die sentrale tot noordwes-Vrystaat voorgekom. Min of geen reën het oor die Winterreëngebied voorgekom. Alhoewel temperature begin daal het, was die sentrale tot westelike gedeeltes van veral die Noord-Kaap nog steeds baie warm.
Somergraanboere sukkel egter om die somergraan-oes droog te kry en sukkel ook om in landerye in te kom. Duiwe en kweleas (rooibekvinke) rig groot skade aan die sonneblomme aan en dit is krities om so gou moontlik veral sonneblomme te stroop as dit ryp word.
Boere in die Wes- en Suid-Kaap het begin om landerye te bewerk, maar oor die algemeen was die reën tot op hede nog te min om werklik voorbereiding te kon doen.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (19 April tot 3 Mei 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Opklaring is besig om plaas te vind vanaf 19 April oor die sentrale tot westelike gedeeltes, maar enkele buie is nog moontlik oor die noordoostelike en oostelike gedeeltes van die land tot 21 April. Toestande verbeter weer vir reën oor die sentrale tot oostelike gedeeltes vanaf 23 April, maar veral rondom 24 tot 26 April. Min of geen reën word verwag oor die Noord-Kaap asook westelike gedeeltes van die Noordwes-provinsie, maar die kanse vir reën kan weer verbeter oor hierdie gebiede vanaf ongeveer 28 April.
Temperatuur
Met ’n sterk koue front wat die land op 19 April tref, kan veral minimum temperature daal maar dit lyk nie asof enige swaar ryp gaan voorkom nie. Dagtemperature behoort egter steeds redelik matig tot koel te wees.
2.2 Winterreëngebied
’n Sterk frontale stelsel behoort goeie neerslae te veroorsaak oor veral die suidwes-Kaap vanaf 19 tot 21 April. Ligter neerslae is egter moontlik oor die Suid-Kaap en aangrensende Oos-Kaap. Dit lyk asof 10mm tot 20mm moontlik is oor die grootste gedeelte van die Wes- en Suid-Kaap. Swaarder neerslae is moontlik oor die Kaapstadse metropool en aangrensende binneland.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
See-oppervlaktemperature het nou tot vlakke gedaal waar dit byna as neutraal geklassifiseer kan word. Met oppervlaktemperature in al die Niño-gebiede tans minder as 1 graad C warmer as normaal, is dit baie naby aan neutrale toestande met slegs ‘n swak El Niño-neiging. ‘n Dwarsdeursnit toon ook dat koeler temperature uit die dieper lae van die oseaan besig is om die warm oppervlakwater te vervang. Dit dui dan ook dat die kanse goed is dat die huidige situasie kan omswaai na ’n La Niña-fase vanaf die middel van die winter en volgende somer.
Kyk spesifiek na die meegaande animasie van weeklikse verandering in see-temperature tot op ’n diepte van 450m.
Kyk ook na onderstaande webbladsye.
Webwerf 1:
Webwerf 2:
Daar is nou baie sterk tekens dat die huidige El Niño kan oorgaan in ’n La Niña fase vir die komende somerseisoen.
Kyk na die volgende webadres:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30 dae gemiddelde SOI was op 31 Maart 2010 = -10,93 maar het in die eerste drie weke van April baie vinnig begin verander. Dit was op 19 April reeds +9,75 wat ’n baie sterk styging verteenwoordig. ‘n Styging in SOI verteenwoordig ‘n beweging weg van El Niño. Hierdie baie sterk sein kan verantwoordelik wees vir verdere reën oor die land in die volgende paar weke.
Die maand van Maart 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño-neigend). Kyk na onderstaande webbladsy deur op “World“ te kliek. Dit sal waarskynlik teen einde April in Fase 4 of vinnig stygend wees.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied
Met die sterk afbreekfase van El Niño wat nou begin plaasvind is reën nog moontlik oor die Somerreëngebied in Mei maar kan dalk ’n laat lenteseisoen aandui voordat somerreën kan voorkom.
4.2 Winterreëngebied
Alhoewel die huidige El Niño verswak, bly die reënvalvooruitsigte steeds goed vir die tydperk vanaf veral April tot Junie. Die lente dui ondergemiddelde reënval aan.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is vir praktiese doeleindes verby. Die 2009/10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëland-gebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie. Met koue fronte wat die Kaap begin tref, behoort voldoende reën voor te kom om redelike goeie toestande te skep vir aanplantings in die Wes- en Suid-Kaap voor die einde van Mei.
Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.
6.2 Somergraan
Met die koeler toestande wat begin intree, gaan verdere ontwikkeling van somergrane baie stadig wees. Geen ryp het nog tot op hede voorgekom nie en dit lyk ook nie asof swaar ryp wat skade kan veroorsaak voor die einde van April gaan voorkom nie.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op tussen 11,9 tot 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Agri, Bloemfontein.
20 April 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)