“Ek wonder of die Departement van Waterwese en Omgewingsake die proses met die massas water in die Vaalrivier reg bestuur het. Ek dink hulle het te lank gevat om die sluise oop te maak.”
Dít is die mening van mnr. Boeta du Toit, bestuurshoof van Agri Noordwes, nadat die Christiana- en Bloemhof-omgewing die week deur oorstromings getref is. Hy sê die Bloemhofdam is 120% vol, en tans loop 4 000m³ water per sekonde deur die dam se sluise.
Die water sal na verwagting sowat drie weke neem om af te loop. Volgens Du Toit wil hulle teen die einde van dié week ‘n voorlopige verslag oor die skade in die twee gebiede opstel. “Ons is tans in gesprek met die owerhede en het reeds die aansoekvorms om dele tot rampgebiede te verklaar, gekry. Die finale skade sal egter eers bepaal kan word wanneer die water afgeloop het.”
Water het met 15m gestyg
Mnr. Ernst Viljoen, voorsitter van die Bloemhof-distrikslandbouvereniging, sê die watervlak in die omgewing het met tussen 10m en 15m gestyg. “Daar’s ouens met spilpunte wat tot ‘n kilometer ver van die rivier af is wat onder water is. Party staan tot in die helfte onder water, ander se boonste punte steek slegs uit.”
“Ons sit nou egter met ‘n situasie waar daar so baie water om ons is, maar nie ‘n druppel is om te drink of gebruik nie,” verduidelik Viljoen. Hy sê aan die Vrystaat-kant van die Bloemhof-omgewing kort van die boere se mielies en groente reën.
“Die rivier is vol maar die ouens kan nie hulle goed water gee nie, want hulle kan nie by hulle waterpompe uitkom nie. Almal het hulle waterpompe opgelig en hoër op geskuif, maar niemand het gedink dit sal nodig wees om dit ‘n kilometer ver te skuif nie.”
Lees ook:
Volgens Viljoen vergader hulle Vrydag met die betrokke departemente om vas te stel wat hulle te doen staan.
Rivier hoog in die Noord-Kaap
Die Vaalrivier se vlakke in die Noord-Kaap is tans baie hoog. Mnr. Johan van Rensburg, die hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê hulle het egter nog geen terugvoer van oorstromings en probleme in dié provinsie ontvang nie.
Intussen sê mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging, die droogte in die Suid-Kaap het baie vererger. “Dinge het die afgelope tyd hier gegaan van sleg na baie sleg.” Hy sê daar is boere wat groot finansiële probleme ervaar, en plek-plek raak drinkwater vir die diere ‘n probleem.
Volgens Gericke stel hulle tans ‘n dokument op om aan die Regering voor te lê oor dié omstandighede.
3 Februarie 2010
Kommentaar
Ek onthou in 1982 Het ons net so groot vloed gehaad my pa het alles verloor en die versekering het net hulle skouers op getrek. Gaan dit hierdie jaar weer gebeur wonder ek.
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)