Boere juig oor reën in Oos- en Wes-Kaap

 
Wolke. Foto: THEUNS BOTHA
Wolke. Foto: THEUNS BOTHA

ligte reën sedert Dinsdag (8 Junie) oor dele van die Oos- en Wes-Kaap uitgesak het, is boere hoopvol dat groot reën in die komende dae in die streek sal val.

Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê dit reën (Woensdagmiddag) langs die kusgebied van die provinsie. “Dit was hemels om Dinsdagoggend met die klank van reëndruppels op die sinkdak wakker te word. Dit gee mens sommer weer moed!”

Volgens Pietersen het nog net 4mm op sy plaas geval, maar hy is vol hoop dat meer reën in die komende dae sal uitsak.

Langkloof jubel ook
Boere in die Langkloof jubel ook ná reën Woensdagoggend in dié distrik begin uitsak het. “Dit het vanoggend begin reën en ons het nou al so 30mm gehad. Ons is baie opgewonde, en hou regtig duim vas vir meer,” vertel mnr. André de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging.

Volgens De Wit is dit ook goed koud in die gebied. “Die temperatuur is vandag 12 grade Celsuis, maar ons kla nie want dis goed vir die vrugtebome.” Goeie reën word oor die naweek vir dié omgewing voorspel.

Kersfees in Junie in die Wes-Kaap?
Intussen sê Agri Wes-Kaap dit voel vir boere in dié provinsie soos Kersfees in Junie nadat welkome reën ook plek-plek daar uitgesak het.

Luidens ‘n verklaring het die Riversdal-omgewing Dinsdagnag sowat 15mm reën gehad, en reën dit steeds. Die Herold-streek juig ook oor 20mm wat Dinsdagnag in dié omgewing geval het. In die gebied vanaf Ladismith tot by Uniondale het tussen 5mm en 13mm die afgelope drie weke geval.

Produsente in George hoop ook vir meer reën nadat 30mm in dié distrik voorgekom het. Mnr. Neluis van Greunen, ‘n boer van die omgewing, sê: “Ons is baie bly oor dit wat al geval het, en ons hoop dat nog meer sal kom. Ons het dit regtig nodig.”

Volgens Agri Wes-Kaap word nóg reën en donderstorms teen Woensdagaand in George se omgewing verwag.

Reën is egter steeds skaars in die Karoo, maar Agri Wes-Kaap glo en vertrou dat reën ook hier binnekort sal voorkom.

9 Junie 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.