|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
“Van die boere in die Oos-Vrystaat het vanoggend vir my gesê die Liebenbergsvlei buite Bethlehem lê op plekke 2 m onder die vloedvlakke van 1988, en die rivier raak-raak aan die nuwe brûe wat gebou is”. Só sê mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van Vrystaat Landbou, nadat groot hoeveelhede reën die afgelope 10 dae oor groot dele van die Oos-Vrystaat uitgesak het.
Vermeulen sê ‘n boer van Heilbron het hom ingelig dat 100 mm reën gister binne ‘n uur in die Kroonstad-omgewing geval het. “Hy sê vyf plaasdamme is weg, en sowat ‘n honderd skape van die een boer het saam met die water weggespoel”.
In die Oranjeville-omgewing is 25% van aangeplante gewasse beskadig, en het boere groot probleme met vrotpootjie. “Die diere vrek in die lande omdat die veeartse nie betyds by hulle kan uitkom nie,” verduidelik Vermeulen.
Kyk na ons fotogalery van die reën.
Huise ontruim
Vermeulen sê sommige boere in die omgewing gaan moontlik hul huise moet ontruim omdat hulle te naby aan die riviere gebou is. “Ons is veral bekommerd oor een boer wie se huis baie naby aan ‘n rivier is!”
Mnr. Pieter Theron van die plaas Bosworth naby Bethlehem sê hy is bekommerd oor sy gesaaides. “As die wind nou kom waai, gaan hy my mielies uitwaai. Ons het ook grond na Lindley se kant toe, en daar het my reënmeter vanoggend oorgeloop van die reën wat gisternag geval het. Sowat 80m van my drade langs die Valsrivier is onder water. Ons het nou al vir 10 dae ononderbroke reën gehad”.
Boere in die Harrismith-omgewing sê hulle het die afgelope maand al 500 mm aangeteken, terwyl ‘n boer van Bethlehem reeds 400 mm reën gehad het. “Sommige boere het in een maand al meer reën as hulle gemiddelde jaarlikse reënval gehad. Ons hoop die reën sal oor die volgende twee dae begin opklaar,” vertel Vermeulen. In Bethlehem het daar verlede week binne twee ure 150 mm reën geval, terwyl daar terselfdertyd sowat 100 mm in Reitz geval het.
Gesaaides in Mpumalanga versuip
Volgens mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA, sê boere in Mpumalanga hul gesaaides begin versuip. “Ons is nog nie seker wat dié skade beloop nie. Ons vat egter eerder die nat weer, want skade kan jy op manier weer regmaak. Droogte kan jy nie hanteer nie”. Vanuit die res van die noordelike provinsies het Marais nog geen klagtes van skade ontvang nie.
Mnr. Boeta du Toit, die voorsitter van Agri Noordwes, sê geen skade is nog by hulle aangemeld nie. “Daar is boere wat sukkel om in hulle lande te kom, maar niks ernstigs is nog aangemeld nie. Ons is baie bly dat die gebiede wat baie droog was, soos rondom Vryburg, ook reën gehad het”.
Droogte in die suide duur voort
Intussen duur die droogte in die Oos- en Wes-Kaap voort, met party boere wie se produksie gaan stilstaan het. Mnr. Stephan Gericke, die voorsitter van die George-boerevereniging, sê groenteproduksie in dié distrik staan stil, terwyl vleisboere baie swaar trek. “Ons smag steeds na reën, en in dele lyk dit nou haglik. Sommige boere ry selfs voer aan van sover as Griekwaland-Wes”.
Volgens Gericke is die George-dam se volume vandeesweek onder 20%, en het die munisipaliteit intussen toestemming gekry om ses boorgate in die omgewing te boor. “Hulle het gister ‘n sterk boorgat geslaan wat redelik water sal voorsien”. Watertariewe in dié dorp het sedert die begin van verlede jaar al amper verdubbel.
Stuur gerus jou foto's van die reën na foto@landbou.com.
27 Januarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)