Droogte-siklusse in die Suid-Kaap

 
Aalwyn. Foto: FRANS COETZEE
Aalwyn. Foto: FRANS COETZEE

Wat boerdery in die distrirkte van Albertinia, Riversdal, Mosselbaai en Gouritz so moeilik maak, is die reënvalseisoen: Soms is dit winterreën, soms somerreën.

Mnr. Danie Oosthuizen van Albertinia het ‘n navraag op die webwerf geskryf. Hy sê: “As 'n reël word Albertinia nie ingesluit wanneer daar in die media van die droogte geteisterde gebiede gepraat word nie. Ek sal graag die slim manne se nuutste advies aan boere in hierdie gebied wil hoor of sien. In die laat jare '80 is daar aanbeveel dat hierdie gebied nie geskik is vir saaiboerdery nie, maar eerder vir veeboerdery. Nou sit ons met veeboerdery wat ook beslis nie lonend is nie - dan nog die melkprys wat dreig om af te kom. As die voorspelling dat die droogte nog gaan vererger gaan waar word,gaan droogtehulp ook nie meer help nie - lyk my daar sal eerder 'n soort 'all-pay' vir boer en werkers moet ingestel word. Geld wat op veevoer spandeer word kan nie weer uit die vee verhaal word nie.”

Hierop het Johan van den Berg van Santam Agri geantwoord:

Suid-Afrika se reënval is baie wisselvallig hoofsaaklik as gevolg van die relatief klein landmassa tussen twee enorme oseane. Die verskil in watertemperatuur tussen die oseane is ook baie groot. Weersisteme op aarde word gedryf deur energie, hoofsaaklik voorsien deur die son. Van hierdie energie word egter gestoor in die oseane en herverspreiding van energie kan plaasvind as gevolg van see-strome of as gevolg van oppervlakwinde soos in die geval van die sogenaamde ENSO (El Niño Suidelike Ossillasie).

Die situasie in Suid-Afrika word nog meer kompleks gemaak deur koue fronte wat die land se weer vanuit die suidweste beinvloed en topografie soos bergreekse wat ook ‘n baie groot invloed kan uitoefen op ‘n spesifieke gebied se klimaat. Reënvalgebiede in Suidelike Afrika kan in drie groepe ingedeel word, alhoewel daar ook oorgangsones is:

Hoofsaaklik tropiese vog
Eerstens die somerreënvalgebied, waar reënval se oorsprong hoofsaaklik tropiese vog is, wat vanaf Sentraal Afrika suidwaarts beweeg en reën veroorsaak met laagdrukstelsels die hoofmeganisme om vogtige lug in die kouer en hoër luglae van die atmosfeer te kry, wolke te vorm en te reën (onthou ‘n laagdrukstel is stygende lug).

Tweedens reën as gevolg van koue fronte. Koue lug is swaarder as warm lug en met die deurbeweeg van ‘n frontale stelsel beweeg die koue lug onder die warm lug in, forseer dit hoër op in die atmosfeer en dit vorm dan wolke en reën.

Derdens is reën wat veroorsaak word deur die topografie: Bergreekse dien as “ramp” of opwaartse helling om wind se vertikale rigting te verander, dit wil sê dit laat lug ook styg wat dan wolke vorm.

Die gebied rofweg vanaf Albertinia/Riversdale tot byna by Oos-Londen in die Oos-Kaap is ‘n gebied wat grotendeels ‘n kombinasie van faktore het wat reënval in hierdie gebied veroorsaak. In sommige jare met diep somerstelsels wat baie ver wes afkom en dan suidooswaarts beweeg, veroorsaak dit somerreënval. In jare met baie sterk frontale stelsels, kry dit winterreënval.

Begreekse speel rol
Die gebied is ook baie sterk onder die invloed van groot bergreekse soos die Outeniekwa, Swartberg, ensovoorts. Die langtermyngemiddelde reënval dui ook dat daar eintlik nie ‘n spesifieke reënseisoen is in die Albertinia-gebied nie. Januarie en Desember is die maande met die laagste reënval (22,6mm en 22,5mm respektiewelik). Die ander maande is baie naby aan mekaar: Februarie = 31,2mm, Maart = 32,8mm, April 42,0mm, Mei = 40,8mm, Junie = 34,5mm, Julie = 34,5mm, Augustus = 44,4mm, September = 37,3mm, Oktober = 46,6mm en November = 43,7mm.

As ‘n mens na die reënval in Suider-Afrika kyk wil dit tog voorkom asof daar periodiek ‘n verskuiwing voorkom van die intensiteit of eintlik meer die gebiede onderhewig aan somer- en winterreënval. Die reënval in die land neig om groepe van jare met minder of meer reën te gee - hetsy dit somer- of winterreënvalgebiede is.

In ‘n ontleding van Albertinia se reënval met ‘n datastel vanaf 1915, is dit baie duidelik: Vanaf 1923 tot 1930 was daar net een jaar (1928) wat bogemiddelde reënval gehad het. So ook 1935 tot 1938, 1944 tot 1947, 1973 tot 1975, 1978 tot 1980, 1999 tot 2002, en ook die afgelope twee jaar wat ver ondergemiddelde reënval gekry het.  (Dit was net in die periode vanaf 1923 tot 1930 waar daar een jaar was met bogemiddelde reënval. Al die ander reeks van jare was aaneenlopend ondergemiddeld.)

Wat boerdery in die Suid-Kaap en veral die gebiede in Albertinia, Riversdale, Mosselbaai em Gouritz so moeilik maak, is die gebrek aan ‘n spesifieke reënvalseisoen. In sommige jare soos 2002 was die Albertinia-gebied ‘n byna suiwer winterreënvalgebied met byna 70% van die reën in die winter. In die jaar 2000 het byna 70% van die reën in die somer voorgekom. Hierby is die langtermyngemiddelde reënval per jaar maar rondom 400mm en selfs laer in seker gebiede wat alreeds marginaal is.

Wintergraan nie volhoubaar
Die rede hoekom wintergraanverbouing in hierdie gebied nie volhoubaar is nie, is omdat reënval in die winter baie onbetroubaar is, grond nie goeie waterhouvermoë het nie en ook omdat Oktober en November die maande met die hoogste reënval is en dus saamval met strooptyd. Dus het wintergrane hier ‘n dubbele risiko: Droogte in die groeityd en reën in strooptyd.

Met veeboerdery is die risiko ietwat minder maar opeenvolgende droë jare en swak verspreiding oor tyd bly ‘n ernstige risiko. Voeg hierby die tendens dat dit lyk asof klimaatsverandering wel ‘n invloed uitoefen om die reënval van veral die Suid-Kaap te verminder oor tyd, maak dit boerdery toestande nog moeiliker.

Dus: Die Suid-Kaap bly een van die moeilikste gebiede om in te boer. Daar is sikliese effekte van opeenvolgende nat- en droër jare. In sommige jare is die gebied ‘n somerreënvalgebied, in sommige jare ‘n winterreënvalgebied, in sommige jare beide winter- en somerreënval en ongelukkig in sommige jare nie een van die twee nie.

Om volhoubaarheid van die landbou in Suid-Afrika te verseker is dit noodsaaklik om te kyk na skemas waar bystand in hierdie swakker jare moet plaasvind. Die probleem met byvoorbeeld veeboerdery is dat droogtes boere se vermoë om vinnig te kan herstel en geld te maak in goeie jare, verswak. Sodra die veeboer byna herstel het ná ‘n droogte indien reën weer voorkom en kuddes opgebou het, is die volgende droogte daar. Pryse val as gevolg van ooraanbod en ry die veeboer die siklus net mooi verkeerd.

Droogte sal daar wees
Daar moet aanvaar word dat droogtes altyd daar gaan wees. Die enigste verskil is dat die goeie tye beter benut moet kan word. Dit kan nie in die huidige opset plaasvind nie. Uit ‘n versekeringsoogpunt was daar al skemas om veeboere van droogteversekering te voorsien. Dit het misluk hoofsaaklik omdat dit te “duur” was en tweedens ‘n gebrek aan belangstelling.

Die voordele wat droogtehulp inhou moet oor die langer termyn gesien word. Veeboere is geneig om te dink dat droogte bestuur word. As dit droog is besef hulle dat nie kan gebeur nie. As dit weer goed gaan sal dit nie weer droog word nie. Daar is dus ‘n kopskuif wat gemaak moet word want droogte se effek is nie net vir een jaar nie en dit hou dikwels aan lank nadat dit gereën het.

Ons almal moet beplan hoe ons droogtes kan “bestuur” maar dit is meer belangrik om te beplan hoe om so gou as moontlik te herstel nadat ‘n droogte voorgekom het. In die algemeen kan gesê word dat in boerdery in slegs 20% tot 30% van jare word 70% tot 80% van geld gemaak. In ongeveer 40-50% van jare breek ons net gelyk en in 20-30% van jare maak ons ‘n verlies. Die jare waar ons geld kan maak moet dus gerek of meer gemaak word en in die jare wat ons kan geld maak moet ook meer geld gemaak word. Ons moet probeer om so as moontlik aan die siklus kom van verkoop wanneer almal soek en koop wanneer almal vir verkoop. Miskien makliker gesê as gedaan!

7 Junie 2010

 

3.75
 
 

Kommentaar

Hettie Jonker 

Ek sal graag wil weet wat die melkprys was in 1973.

Meerkat

Hi,dankie vir die insiggewende artikel. Nou verstaan ek die situasie bietjie beter. Ek het dit nou net na my Bankbestuurder deur gestuur. Ek vermoed hy was saam met Noag in die ark want hy weet niks van Droogtes af nie....
Groete
Meerkat

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.