|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Sommige westelike somergraan distrikte te droog om klaar mielies te plant met planttyd wat verby is. Toestande vir reën verbeter vanaf 1 tot 4 Januarie oor die grootste deel van SA met die uitsondering van noordoostelike dele van die land. Lyk asof die Mosselbaai/George/Knysna/Plettenbergbaai gebiede ook redelike goeie neerslae kan kry. Reën oor druiwegebiede kan skade veroorsaak – veral Benede Oranje Rivier. Somerstelsels kan reën oor Wes-Kaap bring in die eerste week van 2010.
1. Die afgelope twee weke
Hittegolf-toestande het oor groot gedeeltes van die sentrale tot westelike en noordelike gedeeltes van die binneland voorgekom. Daar het egter ook goeie reën oor groot gedeeltes van die sentrale tot oostelike Somerreënvalgebied voorgekom. ’n Kenmerk van die huidige weerpatrone is steeds die kol-kol effek. Wat die Mielie produserende gebiede betref is die gebied rondom Hoopstad en Hertzogville in die Wes-Vrystaat waarskynlik die swakste. Daar word beraam dat ongeveer die helfte van die beplande oppervlaktes teen 28 Desember in hierdie gebiede met mielies geplant is. Groot gedeeltes moet ook hervestig word as gevolg van ernstige wind en sand skade. Alhoewel hael in gedeeltes van Noordwes Provinsie voorgekom het, was dit ook verantwoordelik vir goeie reën. Dit is veral die Delareyville distrik wat baie gebaat het. Daar is egter nog steeds kolle in veral Schweizer-Reneke en aangrensende distrikte wat droog is en waar boere nog nie kan plant nie.
Min reën het steeds oor die uiters droë Suid- en Oos-Kaap voorgekom en waterbeperkings vir huishoudelike gebruik is oor groot gedeeltes ingestel of voortgesit.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (29 Desember 2009 tot 11 Januarie 2010)
2.1 Somerreënvalgebied
Reënval
Met ’n redelike sterk suidwaartse invloei van vogtige lug oor Namibië en Botswana lyk die kanse redelik goed vir reën oor bykans die hele land (met die uitsondering van die noordoostelike gedeeltes) vir die eerste paar dae van Januarie 2010. Reën is egter nog moontlik oor Gauteng, Mpumalanga en KZN vir die laaste paar dae van Desember voordat die reënpatroon wes en suidwaarts behoort te skuif in die eerste paar dae van Januarie.
Dit lyk asof veral die verre westelike binneland asook die sentrale tot suidelike binneland kan verwag om tussen 10mm en 20mm te kry vir die periode vanaf 1 tot 4 Januarie (Noord-Kaap, noordelike dele van die Wes-Kaap en selfs die Suid-Kaap). Goeie neerslae is ook moontlik oor die Noordwes provinsie asook die Vrystaat, Lesotho, KZN en die Oos-Kaap.
Temperatuur
Baie warm toestande kan steeds voorkom oor veral die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes provinsie asook die Oos-Kaap vir die laaste paar dae van Desember. Afkoeling behoort plaas te vind met die verwagte reën in die eerste week van Januarie 2010. Redelike matige toestande word vir die res van die somerreënvalgebied verwag.
2.2 Winterreënvalgebied
Met ’n sterk somerstelsel in die eerste paar dae van Januarie wat oor die weste kant van die land inbeweeg, is reën moontlik oor die grootste gedeelte van die land. Donderweer en tipiese somerreënvaltoestande is moontlik oor die hele Wes-Kaap wat ook uitbrei na die Suid-Kaap vanaf Saterdag 2 Januarie tot Dinsdag 5 Januarie 2010. Dit lyk asof redelike goeie neerslae ook moontlik is oor die baie droë Mosselbaai/George/Knysna/Plettenbergbaai-gebiede met meer as 10-20mm moontlik.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die Niño3.4- en ander Niño-gebiede se temperature het die afgelope twee weke effens gestyg (behalwe Niño 1+2) en is tans op ongeveer 1.8 grade Celsius warmer as normaal. Voorspellings dui steeds op ‘n volgende sterk verwarming in Januarie om ‘n piek te bereik in Februarie voordat afkoeling behoort plaas te vind. Die verwagting is dat ’n verdere styging van tot 0.5 grade Celsius moontlik is in die volgende maand tot ses weke.
Kyk na onderstaande webbladsye.
http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/ocean/weeklyenso/wkteq_xz.gif
http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/enso_update/ssta_c.gif
http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/lanina/images/...
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30 dae gemiddelde SOI was op 26 Desember 2009 = -10.82.
(http://www.longpaddock.qld.gov.au/SeasonalClimateOutlook/SouthernOscilla...)
Die maand van November was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño-neigend). Kyk na onderstaande webbladsy deur op „World“ te kliek.
http://www.longpaddock.qld.gov.au/SeasonalClimateOutlook/RainfallProbabi...
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreënvalgebied
Alhoewel reën oor die westelike gedeeltes voorgekom het in die eerste week van Desember, bly die kanse vir verdere reën in die volgende ten minste twee maande redelik swak oor die Noord-Kaap en westelike dele van die Vrystaat en Noordwes Provinsie. Die verwagte midsomerdroogte lyk asof dit verder aangeskuif het in die seisoen om meer rondom Januarie gekonsentreer te wees oor die land.
4.2 Winterreënvalgebied
Met die huidige redelike matige tot sterk El Niño-ontwikkeling veroorsaak dit ook dat koue fronte steeds verder noord as normaal beweeg. Die kanse is bogemiddeld vir reën oor die Wes-Kaap en veral die Suidwes-Kaap in Desember en Februarie.
5. Tropiese siklone
Daar is tans geen siklone in die Suidelike Indiese oseaan nie.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Die grootste gedeelte van die wintergraanoes is ingesamel behalwe in die Oos-Vrystaat waar boere tans besig is om te stroop en hulle behoort binne die volgende twee weke klaar te maak. Met die huidige El Niño kan boere in die Wes- en Suid-Kaap verwag om ’n redelike goeie begin van die volgende graanseisoen vanaf April 2010 te ervaar.
6.2 Somergraan
Toestande lyk oor die algemeen redelik goed oor die grootste deel van die Somergraangebiede met die uitsondering van die Wes-Vrystaat en gedeeltes van die Noordwes provinsie. Die Hoopstad/Hertzogville omgewing is tans die swakste met redelike groot oppervlaktes wat nog geplant of oorgeplant moet word. Die tyd vir mielie aanplantings is bykans verby.
Boere sal egter nog met gemak tot ten minste tot 15-25 Januarie 2010 sonneblom kan plant.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
4 Januarie 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)