Erge koue en sneeu

 
Sneeu in die Koo. Foto: ANDRE VAN JAARSVELD
Sneeu in die Koo. Foto: ANDRE VAN JAARSVELD

Erge koue en sneeu het oor die grootste gedeeltes van die Suid-Kaap en die Klein Karoo voorgekom, met temperature wat al tot minus 14 grade Celsuis gedaal het.

Mnr. Cerneels Pietersen, voorsitter van Agri Oos-Kaap, sê tussen Humansdorp en Port Elizabeth het die kwik Dinsdagaand (15 Junie) tot minus 14 grade Celsius gedaal.

“Dis onsettend koud, die berge naby Port Elizabeth is toe onder die kapok. Daar is ook ‘n paar boere wat al laat weet het dat van hulle vee nie die koue oorleef het nie, maar daar was nie erge verliese nie. Van die diere is weens die droogte nie baie sterk nie, en sal derhalwe nie die erge koue oorleef nie,” sê hy.

Goeie reën in die Tsitsikamma
Pietersen sê tussen 55mm en 155mm reën het in die Tsitsikamma geval, en die Humansdorp-omgewing het al sowat 70mm reën gehad. “Sover ek verstaan het daar nog nie baie reën in damme se opvangsgebiede geval nie. Dié reën was nog nie genoeg om die droogte te breek nie, ons gaan nóg opvolgreën daarvoor nodig hê.”

Mnr. Gerdie Landman, ‘n melkboer van die Mooimelk Koeihotel naby Cookhouse, sê na dié reën in die Tsitsikamma het baie boere se damme reeds opgevul, en hy verwag dat groter damme tans besig is om op te vul.

In die binneland reën dit egter minder. Volgens Pietersen het dit in die binnelandse gedeeltes van die provinsie tussen 10mm en 70mm gereën. Landman sê op sy plaas het hy die afgelope paar dae nog net 1mm reën gemeet.

Klein Karoo is wit
Volgens mnr. Anton Kruger, die hoof-uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer, is die grootste gedeelte van die Karoo wit gesneeu. Hy sê produsente het sneeu in die Cradock-, Graaff-Reinet-, Grahamstad-, Aliwal-Noord- en Burgersdorp-distrikte aangemeld. Hy sê die Outeniekwaberge, Swartberge en die Kamanassieberge is ook bedek met sneeu.

Kruger sê produsente het nog nie juis skade gelei met vrektes weens die koue weer nie: “ ’n Volstruis is mos ‘n baie aanpasbare dier, so daar was nog nie baie vrektes nie. Kuikens sal wel binnenshuis aangehou moet word, maar aangesien dit nie nou kuikenseisoen is nie, behoort dit nie ‘n probleem te wees nie.”

Kyk op die skakels hieronder vir foto’s van die sneeu:

Sneeu in die Langkloof

Wit wonderwêreld in die Koo

17 Junie 2010

5
 
 

Kommentaar

Danie Barnard 

Baie danie vir die wonderlike nuus. Veral die reen wat so nodig is. Ons kuier tans in Kanada vanaf Jeffreysbaai, en dit maak ons harte bly. Bid asseblief vir nog reen, veral waar daar nog groot behoeftes bestaan.
Dankie Alani

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.