Goeie neerslae die week verwag

 
Wolke. Foto: KOBUS MARAIS
Wolke. Foto: KOBUS MARAIS

Hoofnuus
Toestande vir reën verbeter weer, vir veral die tydperk tot 17 Februarie.

1. Die afgelope twee weke
Heelwat minder reën het die afgelope twee weke voorgekom en temperature het ook skerp gestyg. Baie warm toestande het oor veral gedeeltes van die Suidwes-Kaap, die Oos-Kaapse binneland, gedeeltes van KZN asook groot gedeeltes van die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo-provinsies voorgekom. Damvlakke het gestabiliseer en opruiming kon begin plaasvind ná die vloede in die noordwes-Vrystaat en gedeeltes van Mpumalanga in die laaste week van Januarie. Toestande was dus baie goed om landerye te laat afdroog en vloedskade en veral versuiptoestande te beperk. In gedeeltes van die Vrystaat en Noordwes-provinsie word reën benodig om droogteskade te verhoed. Ligte reën het begin voorkom oor die baie droë Suid-Kaap en aangrensende Oos-Kaap.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (15 tot 28 Februarie 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Toestande vir reën begin oor die algemeen effens verswak oor veral die westelike dele van die land, alhoewel daar tog tydperke gaan voorkom met ’n goeie kans vir reën. Reën is moontlik oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied tot ongeveer Woensdag 17 Februarie, wanneer opklaring uit die weste gaan plaasvind. Enkele tot verspreide buie is egter nog moontlik tot die naweek oor die noordelike en oostelike dele van die land. Min of geen reën word verwag vanaf ongeveer 17 tot 21 Februarie oor die Noord-Kaap, Wes-Vrystaat asook die westelike dele van die Oos-Kaap nie. Vanaf ongeveer 22 Februarie verbeter toestande vir reën weer en kan enkele tot verspreide buie verwag word oor bykans die hele Somerreëngebied.

Temperatuur
Temperature behoort ook baie hoog te wees oor veral die Noord-Kaap met maksimumtemperature hoër as 35 grade C in die sentrale tot westelike dele. Hoë temperature is ook moontlik oor die Oos-Kaapse binneland.

2.2 Winterreëngebied
Koue fronte begin die suidelike dele van die land beinvloed. Ligte reën lyk moontlik oor die Suidwes-Kaap vanaf 15 tot 17 Februarie asook rondom 22 Februarie. Oor die Suid-Kaap lyk toestande effens beter en kan ligte reën tot ongeveer 20 Februarie verwag word.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Na ’n skerp daling in see-oppervlaktemperature vanaf Desember 2010 het El Niño redelik verswak in veral Januarie 2010. Die afgelope week het temperature sywaarts beweeg maar geografiese inligting van die Niñogebiede toon dat die Niño nie besig is om te versterk of weer te verwarm nie alhoewel die SOI nou weer ’n sterk El Niño neiging toon.

Kyk na onderstaande webbladsye.

Kaart 1

Kaart 2

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI was op 15 Februarie 2010 = -24.27 wat sterk El Niño neigend is. Lokale frontale stelsels in die Stille Oseaan kon egter op die korttermyn die sterk neiging gestimuleer het maar ander indekse toon nie die huidige El Niño herontwikkel nie.

Die maand van Januarie 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño neigend). Kyk na hierdie webbladsy deur op „World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied

Die kanse is nog steeds daar dat droër tydperke kan volg maar die huidige El Niño wat neig op die rand van El Niño tot neutraal maak voorspellings byna onmoontlik oor die medium termyn. Die amptelike voorspelling gegrond op die SOI, dui op ondergemiddelde reënval vir die volgende 3 maande (kyk na webwef direk bo die opskrif hierbo). Tradisioneel is die kanse vir reën tydens El Niño jare redelik goed rondom die laaste deel van Januarie en eerste deel van Februarie en verswak dan daarna om veral in Maart droog te wees. Indien die huidige verswakking van El Niño gaan voortduur kan dit die kanse vir reën voor die winter egter steeds redelik hoog hou. Die SOI wat tans nog El Niño neigend reageer maak voorspellings verder problematies.

Oor die algemeen wil dit tog lyk asof droër toestande besig is om in te tree. Stormagtige weer met kolle van swaar reën asook uiterste hoë temperature kom steeds voor.

Alhoewel ligte reën oor die droogtegeteisterde suidelike dele van die Oos-Kaap en aangrensende Wes-Kaap voorgekom het, bly weidingstoestande asook watervoorsiening kritiek.

4.2 Winterreëngebied
Met die verswakking van El Niño kan dit ook reënvalvooruitsigte demp maar daar is egter nog heelwat El Niño neigings wat kan veroorsaak dat bogemiddelde reënval steeds kan voorkom in veral die tydperk rondom April/Mei.

5. Tropiese siklone
Tropiese siklone speel dikwels ’n baie groter rol in weersomstandighede in die tweede gedeelte van die seisoen as die ENSO-effek. Tot op hede was die voorkoms van sterk siklone baie beperk wat veroorsaak het dat daar nie ’n abnormale sterk uitvloei van vogtige lug vanaf sentraal Afrika ooswaarts was nie en is vog dus suidwaarts gekanaliseer om reën oor Suidelike Afrika te veroorsaak.

Tot op hede (vanaf Novemer 2009) was daar reeds 7 tropiese siklone in die suidelike Indiese Oseaan MAAR die meeste se leeftyd was minder as 5 dae wat abnormaal kort is. Gewone leeftyd is tussen 7 en 12 dae. Daar was slegs een sikloon in die Mosambiekkanaal (Bongani) wat aktief was vanaf 23 tot 25 November 2009.

Daar is gemiddeld ongeveer 21 siklone per seisoen in die suidelike Indiese Oseaan met die minste 13 in 1997/98 (ook El Niño met goeie reën) en die meeste 25 en 2004/05 in die laaste 12 jaar.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëland gebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie.

Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.

6.2 Somergraan
Die warm en sonskyntoestande van die laaste week tot 10 dae het baie gehelp om die effek van die oormaat reën teen te werk. Daar is egter gebiede waar versuiptoestande permanente skade aangerig het. Oor die algemeen is toestande baie goed maar gedeeltes van veral die westelike produksiegebiede begin reën benodig.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes.

Die oes teen die einde van Desember 2009 is beraam op tussen 11.3 en 12.1 miljoen ton. Januarie 2010 se werklike klimaatstoestande is egter nog nie in berekening gebring nie en sal in komende verslae ingesluit word.

* Johan van den Berg is ‘n weerkundige in diens van Santam Agri in Bloemfontein.

16 Februarie 2010
 

4
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.