Goeie neerslae - droogte nie gebreek

 

“Ek dink die reën is vir eers vir ons verby, maar ons hoop nie so nie”. Mnr. Stephan Gericke, die voorsitter van die George-boerevereniging, sê sedert Sondag het reën in die omgewing van George, Knysna en Mosselbaai geval, maar hy meen die reën het vir eers opgeklaar.

Die eerste twee weke van Maart is tradisioneel die warmste tyd in die gebied, derhalwe sê Gericke hy glo die groot reën het vir eers verby. “Maar ons is baie dankbaar oor dít wat reeds geval het! Die wêreld lyk aansienlik beter as wat dit verlede week dié tyd gelyk het.”

Winterweidings geplant
Volgens Gericke het daar die afgelope week tussen 40 mm en 71 mm in die distrik geval. Hy sê melkboere is baie verlig hieroor, want nou kan hulle winterweidings aanplant. “Die droogte se greep is egter nog nie gebreek nie, en die grootste skade, veral aan boere se sakke, is reeds gedoen,” sê hy.

Gericke sê die invloei van water in die damme het nog nie plaasgevind nie, maar dit behoort binnekort te begin. Boere wat afhanklik is van riviere, kan nou ten minste vir die volgende 10 tot 14 dae water pomp. Sowat 120 mm het in die gebied van die Tuinroete-George-dam geval, wat die dorp se watervoorrade nou kan aanvul.

Suid-Vrystaters juig oor reën
Intussen juig inwoners en boere van die Suid-Vrystaat nadat tussen 100 mm tot 185 mm oor twee dae daar gemeet is. Luidens ‘n berig van die Suid-Afrikaanse Weer- en Rampinligtingdiens, is mnr. Fanie Griesel van Springfontein besonder bly. Hy het aan die SAWRID gesê: “Ja-nee, Klawerfontein se fontein loop. Hy loop! Bossiesspruit is in vloed. Jy kan dit skryf.” Drie jaar se droogte is by hom gebreek nadat 185 mm op sy plaas gemeet is.

Me. Karien du Plessis van die plaas Ruigtevlei, naby Springfontein, het gesê: “In Februarie het ons al 253 mm gemeet.” Die gebied het Dinsdag ‘n verdere 17 mm gemeet en Woensdag nog 71 mm.

Mnr. Zirk Botha, wie se plaas Ruigtevlei tussen Fauresmith, Luckhoff en Philippolis lê, sê dit het daar wyd gereën. Volgens hom was die gebied “spierwit en droog”. Sowat 103 mm het oor twee dae daar geval.

Sowat 70mm is ook al op Bloemfontein gemeet. Plekke soos Gariepdam, Koffiefontein, Daniëlskuil, Hopetown, Kenhardt, Niekerkshoop, Postmasburg en Merweville het ook goeie neerslae die afgelope week gehad.

Bron: SAWRID

25 Februarie 2010
 

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.