Goeie neerslae oor groot dele van Kaapland, moontlike vloede in die Karoo en uitkoms vir die drooggeteisterde Suid-Kaap is op die weerkaart.
Hoofnuus
1. Toestande vir reën is goed oor veral die Wes-, Suid- en Oos-Kaap tot ongeveer Vrydag, 25 Februarie. Die voorkoms van plaaslike vloedtoestande is nie uitgesluit oor veral gedeeltes van die Karoo nie. Die droogtegeteisterde gedeeltes vanaf ongeveer Riversdale tot Port Elizabeth het ’n baie goeie kans om 20 mm of meer reën te kry in die volgende week.
2. Onafhanklike oesskattings dui op ’n verwagte RSA mielie-oes van ongeveer 12,4 miljoen ton.
1. Die afgelope twee weke
Baie warm toestande het veral voorgekom oor veral die Wes-Kaap, Noord-Kaap asook verder noord en noordooswaarts vanaf ongeveer 17 Februarie. Reënval was ook beperk tot gedeeltes van die meer oostelike provinsies en sedert 21 Februarie het reën begin voorkom oor westelike gedeeltes van die Noord-Kaap asook gedeeltes van die Wes-Kaap.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (22 Februarie tot 8 Maart 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Vog wat oor die Noord-Kaap inbeweeg kan buie veroorsaak vir die tydperk vanaf 22 tot ongeveer 25 Februarie en dan weer vanaf ongeveer 1 Maart. Die stelsel behoort ooswaarts te beweeg en aansluiting te vind met verdere tropiese vog oor Botswana om teen ongeveer 24 Februarie die kanse vir reen heelwat te verbeter oor die res van die Somerreëngebied. Enkele tot verspreide buie kan vir die volgende ten minste week tot 10 dae voorkom oor groot gedeeltes van die Somerreëngebied.
Die huidige tropiese sikloon oos van Madagaskar is ook besig om te verswak wat sal sorg dat die hoogdrukstelsel wat sedert 18 Februarie oor die sentrale tot noordelike binneland teenwoordig was, ook sal verswak en toestande vir reën weer gunstiger raak vanaf ongeveer 25 Februarie.
Die huidige baie warm toestande kan dui op ’n opbou van waarskynlikhede vir stormagtige weer met die moontlikheid van swaar reën in die volgende paar weke.
Temperatuur
Temperature behoort steeds hoog wees oor veral die Noord-Kaap met maksimum temperature hoër as 35 grade C in die sentrale tot westelike dele.
2.2 Winterreëngebied
Tropiese vog beweeg sedert ongeveer 21 Februarie suidwaarts oor Namibië en Botswana en met die koms van ’n frontale stelsel oor die Wes-Kaap kan dit die ontwikkeling van ’n redelike sterk laagdrukstelsel oor die Weskus en Wes-Kaapse binneland stimuleer. Dit kan redelike goeie tot selfs swaar reën tot gevolg het oor groot gedeeltes van die Wes-Kaap wat later sal uitbrei na die Suid- en Oos-Kaap. Die moontlikheid van plaaslike vloedtoestande is nie uitgesluit nie. Die tydperk vanaf 22 tot 25 Februarie lyk na die tydperk met die grootste kans vir swaar reën. Teenoor voorspellings van ’n paar dae gelede, het toestande vir reën baie verbeter oor veral die suidelike gedeeltes van die land.
Daar is dus ’n moontlikheid van donderstorms en weerlig oor die Wes-Kaap vir die tydperk tot 25 Februarie.
Dit lyk asof die droogtegeteisterde Oos-Kaap en aangrensende Wes-Kaap ook ‘n baie goeie kans staan om ten minste 20 mm reën in die tydperk tot 25 Februarie te kry.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Na ’n skerp daling in see-oppervlaktemperature vanaf Desember 2010 het El Niño redelik verswak in veral Januarie 2010. Die afgelope week of twee het temperature sywaarts beweeg maar geografiese inligting van die Niño-gebiede toon dat die El Niño nie besig is om te versterk of weer te verwarm nie alhoewel die SOI steeds ’n sterk El Niño neiging toon.
Kyk na onderstaande webbladsye.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30 dae gemiddelde SOI was op 22 Februarie 2010 = -22,92 wat nog sterk El Niño neigend is. Lokale frontale stelsels in die Stille Oseaan kon egter op die korttermyn die sterk neiging gestimuleer het maar ander indekse toon nie die huidige El Niño herontwikkel nie. Die werklike see-oppervlaktemperature weerspieël ook nie die SOI status tans nie.
Die maand van Januarie 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño neigend). Kyk na onderstaande webbladsy deur op ”World“ te kliek.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied
Die kanse is nog steeds daar dat droër tydperke kan volg, maar die huidige El Niño wat neig op die rand van El Niño tot neutraal, maak voorspellings byna onmoontlik oor die medium termyn. Die amptelike voorspelling gegrond op die SOI, dui op ondergemiddelde reënval vir die volgende 3 maande (kyk na die webwerf direk bokant die opskrif hierbo). Tradisioneel is die kanse vir reën tydens El Niño jare redelik goed rondom die laaste deel van Januarie en eerste deel van Februarie en verswak dan daarna om veral in Maart droog te wees. Indien die huidige verswakking van El Niño gaan voortduur kan dit die kanse vir reën voor die winter egter steeds redelik hoog hou. Die SOI wat tans nog El Niño neigend reageer maak voorspellings verder problematies.
Hoewel min reen die afgelope twee weke voorgekom het teenoor die eerste paar weke van die jaar, kan stormagtige weer met kolle van swaar reën asook uiterste hoë temperature weer voorkom in die volgende tyd.
4.2 Winterreëngebied
Met die verswakking van El Niño kan dit ook reënvalvooruitsigte demp maar daar is egter nog heelwat El Niño neigings wat kan veroorsaak dat bogemiddelde reënval steeds kan voorkom in veral die tydperk rondom April/Mei.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloon Gelane wat op 16 Februarie ontstaan het, verswak en behoort teen ongeveer 25 Februarie te verdwyn.
Tot op hede (vanaf November 2009) was daar reeds 8 tropiese siklone in die suidelike Indiese Oseaan MAAR die meeste se leeftyd was minder as 5 dae, wat abnormaal kort is. Gewone leeftyd is tussen 7 en 12 dae. Daar was slegs een sikloon in die Mosambiek-kanaal (Bongani) wat aktief was vanaf 23 tot 25 November 2009.
Daar is gemiddeld ongeveer 21 siklone per seisoen in die suidelike Indiese Oseaan met die minste 13 in 1997/98 (ook El Niño met goeie reën) en die meeste 25 en 2004/05 in die laaste 12 jaar.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëland gebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie.
Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.
6.2 Somergraan
Die warm en sonskyntoestande van die laaste week tot 10 dae het baie gehelp om die effek van die oormaat reën teen te werk. Daar is egter gebiede waar versuiptoestande permanente skade aangerig het. Oor die algemeen is toestande baie goed maar gedeeltes van veral die westelike produksiegebiede begin reën benodig.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op tussen 11,9 en 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton.
In hierdie gevorderde stadium van die oes is die enigste risiko’s wat wel die oes nog op ’n groot skaal kan beinvloed die voorkoms van vroeë ryp asook baie swaar reën. Droogte en hitte kan nog ’n invloed uitoefen maar die kanse dat die oes met meer as 10% benadeel kan word is klein.
23 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)