Kommer oor nog reën in Vrystaat

 
Oorstromings by Douglas. Foto ingestuur deur: DUP HAARHOF
Oorstromings by Douglas. Foto ingestuur deur: DUP HAARHOF

Vrystaat Landbou (VL) sê sommige boere in dié provinsie is bekommerd dat nog reën kan val na oorstromings die afgelope twee weke grootskaalse skade aangerig het. Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder, sê daar is voorspellings vir nog reën.

“Die ouens is maar bekommerd. Die wêreld is water-versadig en die grond sal nie nog reën kan absorbeer nie.” Die omgewings van Heilbron, Kroonstad, Frankfort, Reitz, Harrismith en Bethlehem het in ‘n kort tydperk groot hoeveelhede reën ontvang.

‘n Boer in Bethlehem het in Januarie 400mm reën gehad, terwyl ‘n boer van Harrismith 500mm gemeet het. Die vlae reën het ook veroorsaak dat die Vaalrivier se sluise oopgemaak moes word, wat oorstromings in die omgewings van Bloemhof en Christiana, asook Douglas, tot gevolg gehad het.

Wil die Regering help
Volgens Vermeulen is die plan om wyer as die Regering te vra vir fondse vir die herstel van paaie en ander infrastruktuur. “Dis duidelik dat die Regering nie nou geld het om die rampgebiede by te staan nie.” Daar is vroeër vandeesweek met die provinsiale departement van landbou vergader om stappe vorentoe te bespreek.

“Ons het reeds vorms opgestel om ook die privaatsektor te vra vir fondse.” Vermeulen verduidelik dat daar tans opnames gedoen word om die skade te bepaal. Hy sê ingenieurs en boere vanuit VL se geledere, wat moontlik kan help om paaie en infrastruktuur te herstel, sal graag met die Regering se span ingenieurs wil ontmoet.

“As dié onderneming kan slaag sal ons baie bly wees.”

5 Februarie 2010

3.666665
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.