‘n La Niña-weerverskynsel kan vanaf September oor Suid-Afrika voorkom, en dit sal verskeie voordele en nadele vir landbouproduksie inhou, sê weerkundiges.
Mnr. Johan van den Berg, bestuurder van produkontwikkeling by Santam Agri en ‘n weerkundige, sê die El Niño-weerstelsel het teen April heeltemal verdwyn, en tans word neutrale toestande beleef.
“Dit lyk volgens voorspellings dat daar 'n redelike vinnige ontwikkeling gaan wees in die tydperk tot September om 'n volskaalse La Niña te verteenwoordig,” sê Van den Berg.
Hy verduidelik dat La Niña tradisioneel ‘n laat seisoen verteenwoordig. “Die winter begin laat, ryp kom redelik laat in die lente voor en min reën kom voor in die lente. Goeie reëns kom dan voor in die mid- en laatsomer. Met die voorspelde verswakking van La Niña meer na die midsomer kan dit dalk die midsomerreënval ongunstig beïnvloed, afhangend van hoe sterk die verswakking gaan wees.”
Lei tot goeie reënvalseisoene
La Niña kan ‘n redelike goeie reënvalseisoen tot gevolg hê oor die somerreënvalgebied, veral oor die sentrale tot westelike gedeeltes van die land. Die winterreënvalgebied word dikwels ongunstig beïnvloed deur La Niña-verskynsels, sê Van den Berg.
Voordele vir die landbou
Volgens Van den Berg kan La Niña die volgende voordele inhou:
Goeie produksietoestande vir somergrane gegewe die baie water in die grond van die vorige seisoen.
Weidingstoestande kan ook redelik goed wees.
Oor die algemeen is die stand van water baie goed en sal besproeiing in die meeste gebiede voluit kan voortgaan.
Nadele vir die landbou
Van den Berg sê La Niña kan ook nadele inhou:
Siektes, peste en plae soos Slenkdalkoors kan verder uitbrei indien nog reën gaan voorkom. (Tot nou was die winter redelik matig behalwe vir die middel van Junie. Indien baie koue toestande voorkom verminder dit die voorkoms van parasiete en siektes.)
Laat ryp in Augustus maar veral September en selfs aan die begin van Oktober kan skade aan gewasse veroorsaak.
Hael kan moontlik in die komende seisoen verwag word, hoewel dit nog te vroeg is om die presiese voorkoms te bepaal. Hael neig om die reënvalpatroon te volg in veral die eerste deel van die somer.
12 Julie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)