|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Redelik swaar reënneerslae vanaf 23 tot 27 Junie is moontlik oor die sentrale tot westelike dele van die Wes-Kaap.
Baie koue toestande word vanaf ongeveer 24 Junie oor die binneland verwag, maar in die eerste week van Julie behoort dit warmer te word.
1. Die afgelope twee weke tot 20 Junie vanjaar
Meer tipiese wintersweertoestande het vanaf ongeveer 12 Junie begin intree nadat baie swaar reën en vloede in die tweede week van Junie vanjaar voorgekom het.
Swaar ryp het nieteenstaande die baie nat toestande begin voorgekom. Vloedskade het voorgekom oor ’n gebied wat strek vanaf die Noordwes-provinsie, die Suidwes-Vrystaat, die oostelike dele van die Noord-Kaap en die Benede-Oranjerivier asook groot gedeeltes van die Oos- en Suid-Kaap.
Die reën wat in Junie vanjaar voorgekom het, is in baie gevalle die swaarste reën wat vir Junie opgeteken is.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (20 Junie tot 4 Julie 2011)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Ligte reën kan rondom 23 en 24 Junie oor die suidelike dele van die Vrystaat en die Noord-Kaap asook oor die binneland van die Oos-Kaap voorkom met ’n koue front wat oor dié gebiede beweeg. Ligte reën kan ook oor die volgende week of twee oor die oostelike kusgebiede voorkom.
Temperatuur
Temperature gaan steeds laag bly met redelike swaar ryp wat gaan voorkom. Skerp temperatuurdalings kan veral vanaf 24 tot 26 Junie asook vanaf 28 tot 30 Junie voorkom.
Daarna lyk dit asof temperature vir ’n tydperk effens kan herstel en dit oor die westelike en noordwestelike gedeeltes asook die Laeveld en noordoostelike dele van KwaZulu-Natal selfs redelik warm kan word. Maksimum temperature van tussen 20 °C en 25 °C vanaf ongeveer 28 Junie word vir hierdie gebiede verwag.
2.2 Winterreëngebied
Swaar neerslae van meer as 30 mm word vanaf 23 tot 27 Junie oor die Suidwes-Kaap verwag. Dit is veral die gebied rondom Kaapstad, die Swartland asook verder noordwaarts in die westelike en sentrale binneland van die Wes-Kaap wat swaar neerslae kan verwag. In sommige gebiede kan meer as 50 mm voorkom wat ’n gevaar vir plaaslike vloede kan veroorsaak.
Minder reën word oor die Suid-Kaap verwag.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 Enso (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
See-temperature in die Niño-gebiede is met die uitsondering van die Niño-4-gebied (die naaste aan Australië) normaal of selfs al effens warmer as normaal. Die Niño-4-gebied is tans nog ongeveer 0,2 oC koeler as normaal.
Dit is ’n aanduiding dat die La Niña-verskynsel verdwyn het. Die nuutste voorspellings begin baie meer neig na ’n neutrale of normale see-oppervlaktemperature vir die 2011/’12-tydperk en die kanse vir ’n opvolg-La Niña word al hoe swakker.
Tans gee die webblad ’n ongeveer 70%-kans vir neutrale toestande en ’n ongeveer gelyke kans van 15% vir die ontwikkeling van óf ’n El Niño óf ’n La Niña.
Soortgelyke jare in die verlede (waar see-oppervlaktemperature ongeveer dieselfde patroon as die afgelope seisoen gevolg het) het in die meeste gevalle egter rondom Oktober tot Januarie ’n effense terugkeer na La Niña gemaak. Die tweede jaar daarna het die meestal na El Niño geneig.
Voorspellings van see-oppervlaktemperature kan gesien word by die webadres.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie”-gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakwinde uit die Suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI teen einde Mei vanjaar was +2,1 en teen einde April het dit skerp gedaal vanaf +23,9. Teen 20 Junie was die 30 dae gemiddelde SOI steeds effens positief op +2,5.
Lees hier meer.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
Met die skerp daling van die SOI was Mei in die vinnig dalende fase van die SOI. Die komende maande gaan waarskynlik in die neutrale fase wees (fase 5).
Kliek hier vir meer.
4.1 Somerreëngebied
Daar is ’n bogemiddelde kans dat die sentrale gedeeltes van die land laatwinter- en lentereëns kan kry. Die vinnige ontwikkeling weg van La Niña stimuleer gewoonlik reën in die winter.
4.2 Winterreëngebied
Swaar reën het oor gedeeltes van die Wes-Kaap begin voorkom. Die skerp daling in die SOI en die vinnige verswakking van die La Niña het die reënvaltoestande oor die Wes-Kaap laat verbeter om meer positief te wees as wat aanvanklike voorspellings aangedui het.
Daar is egter steeds aanduidings van ondergemiddelde reënval rondom Augustus wat ’n effense verskuiwing van die aanvanklike voorspellings is.
5. Tropiese siklone
Siklone in die Suidelike Halfrond behoort weer vanaf November vanjaar aktief te wees. Tans is die see-oppervlaktemperature as gevolg van wintertoestande te laag om sikloon-ontwikkeling te stimuleer.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap)
Toestande vir wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk belowend met die groot hoeveelhede grondvog wat beskikbaar is. Baie produsente sukkel egter om landerye te bewerk as gevolg van die baie nat toestande.
Meer as 100 mm reën in die Wes-Vrystaat in die tweede week van Junie het veroorsaak dat landerye in hierdie gebiede so nat is dat min aanplantings gedoen kan word terwyl die planttyd byna verstreke is. In die Oos-Vrystaat het minder reën voorgekom en is plantdatums ook later wat behoort te sorg dat koring wel aangeplant sal kan word.
Produksietoestande in die Wes-Kaap het baie verbeter met plantreën wat oor veral die Swartland en goeie opvolgreën wat in die Suid-Kaap voorgekom het. Die verwagte swaar neerslae rondom 23 tot 27 Junie kan egter skade veroorsaak aan jong koring wat kan toespoel.
Dit kan sorg dat heelwat grondwater beskikbaar kan wees in veral gebiede waar die grond se waterhouvermoë beter is. Verwagte droër toestande in Augustus kan egter steeds probleme gee.
6.2 Somergraan
Die nat toestande tot op hede groot skade aan veral die grondboonoes veroorsaak. Sonneblomme wat nog nie gestroop kon word nie kry ook groot skade en lande is in baie gevalle onbegaanbaar.
Sojabone is byna klaar gestroop. Baie min mielies kon ook nog gestroop word omdat landerye te nat is om met implemente en stropers te kan inkom.
7. Internasionaal
7.1 Amerika
Ongunstige klimaatstoestande het veroorsaak dat die plantproses van grane heelwat vertraag is en die oppervlakte wat met mielies beplant is, is ook minder (2%) as wat aanvanklik beoog is.
Aanplantings is ook later as gewoonlik gedoen en dit kan die opbrengspotensiaal nadelig beïnvloed. Wêreldvoorraadvlakke is ook laag. Al hierdie faktore saam kan groot volatiliteit in die komende maande veroorsaak.
Die webadres gee weeklikse inligting van die vordering van graangewasse in Amerika.
Kyk gerus na die voorspelling vir die volgende twee weke.
Gebruik hierdie webadres om die afgelope weke en maande se reënval in Amerika te kan sien.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.
21 Junie 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)