Nóg swaar reën vir Noordwes

 
Mieles onder water. Foto: LEANA ERASMUS
Mieles onder water. Foto: LEANA ERASMUS

Dit lyk asof minder reën in die volgende tyd verwag word maar redelike swaar neerslae is steeds moontlik oor veral die Noordwes-provinsie rondom 3 Februarie.

Hoofnuus
Vloedtoestande en swaar reën veroorsaak skade aan veral die somergraan-oes met veral versuiptoestande wat voorkom in die hoë potensiaal watertafelgronde van die Noordwes-Vrystaat. Skade kom ook voor in Mpumalanga. Die omvang is nog onbekend en sal ook afhang van hitte- en sonskyn in die volgende twee weke.

Die vloedtoestande is veroorsaak deur ’n afsnylaagdrukstelsel wat rondom 24 Januarie sy oorsprong gehad het oor Suid-Namibië en Botswana.

Dit wil tog voorkom asof minder reën in die volgende tyd verwag word maar redelike swaar neerslae is steeds moontlik oor veral die Noordwes-provinsie rondom 3 Februarie.

1. Die afgelope twee weke
Baie swaar reen het oor veral die sentrale, oostelike en noordwestelike dele van die land voorgekom. Dit is veroorsaak deur ’n baie sterk laagdruksel of afsnylaag wat rondom 24 Januarie oor Suid-Namibië en suidelike dele van Botswana ontwikkel het. Dit het suidooswaarts beweeg en in sommige gebiede het meer as 200 mm in 24 uur se tyd voorgekom, op veral 26 Januarie. ’n Faktor wat tot die oorstromings bygedra het was dat die grondreeds versadig was en die meeste damme in hierdie gebiede reeds oorgeloop het of baie naby aan vol was. Die Bloemhofdam was reeds op 25 Januarie op 106% en die Vaaldam op 102%.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (1 tot 14 Februarie 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Hoewel baie vog tans oor die noordelike buurstate versamel en redelike sterk laagdruksisteme in die Mosambiekkanaal en oor Madagaskar aanwesig is, wat baie reën oor hierdie gebiede veroorsaak, beweeg daar nog steeds vog suidooswaarts om enkele tot verspreide buie te kan veroorsaak oor veral die sentrale tot oostelike dele van die land. Rondom Woensdag 3 Februarie kan redelike goeie neerslae van meer as 20 mm weer voorkom oor veral die Noordwes-provinsie, asook aangrensende gedeeltes van die Vrystaat, Gauteng en Limpopo. As gevolg van die baie nat toestande is die lugvog baie hoog en dra dit by tot gunstige toestande vir reën. Dit lyk nie asof die sentrale tot westelike maar veral suidwestelike gedeeltes van die Noord-Kaap veel reën gaan kry nie as gevolg van ’n hoogdrukstelsel wat uit die weste hierdie gebiede domineer en ongunstige toestande vir reën veroorsaak. Min reën word ook verwag oor die westelike dele van die Oos-Kaap, maar goeie neerslae van meer as 20 mm is moontlik oor die Oos-Kaapse kusgebied en aangrensende binneland, veral die baie droë gedeeltes rondom Port Elizabeth op 4 en 5 Februarie.

Temperatuur
Temperature behoort ook baie hoog oor veral die Noord-Kaap te wees met maksimumtemperature hoër as 33 grade C.

2.2 Winterreëngebied
Met ’n koue front is ligte neerslae moontlik op 7 Februarie, oor veral die kusgebiede en die aangresende binneland. Toestande is effens beter oor die Suid-Kaap, veral die Mosselbaai/George/Knysna-gebied vanaf 7 Februarie tot ongeveer 11 Februarie, maar slegs ligte neerslae van minder as 10 mm word verwag.
Matige suide- tot suidoostewinde behoort in die volgende tyd voor te kom behalwe rondom 7 tot 9 Februarie wanneer dit wes tot noordwes sal waai met die koms van ’n koue front.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Al die Niño-gebiede se see-oppervlaktemperature het sedert die einde van Desember 2009 begin daal. Die belangrike Niño 3.4-gebied het vanaf ongeveer 2 grade C warmer as normaal gedaal tot tans (1 Februarie) 1.4 grade C warmer as normaal. Die Niño-1+2-gebied teen Suid-Amerika het gedaal vanaf ongeveer 0.7 grade C warmer as normaal tot ongeveer normaal, die Niño-3-gebied vanaf ongeveer 1.6 grade C warmer as normaal tot 0.8 grade C warmer as normaal en die Niño-4-gebied van ongeveer 1.6 grade C tot 1.4 grade C warmer as normaal. Dit is goeie nuus indien El Niño begin verswak want dit kan die kanse vir reën verbeter. Die tempo waarteen verswakking plaasvind is ook dikwels belangrik om die toestande vir reën te bepaal oor Suidelike Afrika.

Die tyd van die jaar wanneer die verandering plaasvind het ook ’n invloed op reënvalwaarskynlikhede. Indien die afkoeling of verswakking van El Niño in die lente of vroeë somer plaasvind, verswak dit die kanse vir reën oor die Somerreëngebied terwyl ’n verswakking later in die somer weer positief kan wees.

’n Sterk El Niño ontwikkeling in die herfs en winter is veral baie positief vir reën oor die Winterreëngebiede.

Kyk na onderstaande webbladsye.

Webwerf 1

Webwerf 2

Webwerf 3

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlak-temperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van seetemperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI was op 1 Februarie 2010 = -8.9 wat weer effens meer El Niño neigend is. Dit kan egter net ’n tydelike verandering wees en nie deel van die groter tendens nie.

Die maand van Januarie 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño neigend). Kyk na onderstaande webbladsy deur op „World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied

Die kanse is nog steeds daar dat droër tydperke kan volg maar die huidige El Niño wat neig op die rand van El Niño tot neutraal, maak voorspellings byna onmoontlik oor die medium termyn. Die amptelike voorspelling gegrond op die SOI, dui op ondergemiddelde reënval vir die volgende 3 maande (kyk na webwef direk bo die opskrif hierbo). Tradisioneel is die kanse vir reën tydens El Niño-jare redelik goed rondom die laaste deel van Januarie en eerste deel van Februarie en verswak dan daarna om veral in Maart droog te wees. Indien die huidige verswakking van El Niño gaan voortduur kan dit die kanse vir reën voor die winter egter steeds redelik hoog hou.

4.2 Winterreëngebied
Met die verswakking van El Niño kan dit ook reënvalvooruitsigte demp maar daar is egter nog heelwat El Niño neigings wat kan veroorsaak dat bogemiddelde reënval steeds kan voorkom in veral die tydperk rondom April/Mei.

5. Tropiese siklone
Tropiese siklone speel dikwels ’n baie groter rol in weersomstandighede in die tweede gedeelte van die seisoen as die ENSO-effek. Tot op hede was die voorkoms van sterk siklone baie beperk wat veroorsaak het dat daar nie ’n abnormale sterk uitvloei van vogtige lug vanaf sentraal Afrika ooswaarts was nie en vog is dus suidwaarts gekanaliseer om reën oor Suidelike Afrika te veroorsaak.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).

Grondvogtoestande in die droëlandgebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en nie-winsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie.

Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.

6.2 Somergraan
Die vloedtoestande en baie swaar reën in die week vanaf 25 Januarie 2010 het skade aan veral somergrane in die Noordwes-Vrystaat en gedeeltes van Mpumalanga veroorsaak. Dit is veral die hoëpotensiaal sogenaamde “watertafelgronde“ waar versuiptoestande nou voorkom. Hierdie is gebiede met ’n baie sanderige bogrond en ’n hoë infiltrasie tempo. Dieper in die grondprofiel verhoog die kleipersentasie en dit maak dat water baie stadig verlore gaan na dieper lae in die profiel. Dus word ’n “dam“ gevorm wat vrywater hou. In droogtetye lewer hierdie tipe van gronde baie goeie opbrengste aangesien groot hoeveelhede water in die grond gestoor kan word. Tans is daar so baie water opgegaar dat geen suurstof beskikbaar is nie en plante versuip.

Verder het skade aan besproeiingsmielies in laagliggende gedeelte langs veral die Vaalrivier en vertakkings voorgekom. Die omvang is egter nog onbekend. Waar oormaat reën nie voorgekom het nie, het dit egter ’n baie positiewe effek gesien in die kritieke stadium van ontwikkeling.

’n Verdere onbekende faktor is die effek van die bewolkte en nat toestande op die bestuiwingsproses.

Die hoeveelheid hitte en sonskyn in die volgende 2 tot 3 weke gaan ’n redelike groot invloed hê op die oes.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Desember 2009 is beraam op tussen 11,3 en 12,1 miljoen ton. Januarie 2010 se werklike klimaatstoestande is egter nog nie in berekening gebring nie en sal in komende verslae ingesluit word.

* Kyk na satellietbeelde van vandag se weer op landbou.com, asook voorspellings:

www.landbou.com/weer/weer-vandag

www.landbou.com/weer/weervoorspelling

1 Februarie 2010
 

4.333335
 
 

Kommentaar

LORRAINE PRINSLOO 

Wil nie kommetaar lewer nie. wil net weet kan jul my dalk die reenval vanaf 2009 tot nou vir noordwes gee..s eun is besig met taak en moet die reenval met foto's en alle derglike dinge inhandig..
As jul my kan help sal ek waardeer..
Dankie vir al julle navorsing...

Onbekende besoeker 

KOM ONS HOOP MAAR NIE DIT GAAN 15 MILJOEN TON WEES NIE, WANT DAN GAAN ONS NIKS KRY VIR ONS MIELIES NIE....DIE REEN IS TOG WELKOM..!!

Willem van Noordwes 

Die oes gaan 15 miljoen ton wees "vra die antie daar sit sy"

Kobus Botha

Skitterend, Johan.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.