Neerslae kom vir Oos-Kaap

 
Droogte. Foto: MARLEEN SMITH
Droogte. Foto: MARLEEN SMITH

Hoofnuus
Nog reën word verwag vir die droogtegeteisterde Suid- en aangrensende Oos-Kaap vanaf ongeveer 9 tot 15 Maart, waar die droogte nog steeds nie gebreek nie. Min of geen reën word verwag vir die res van die Somerreëngebied tot ten minste 15 Maart nie.

Ligte reën is ook moontlik oor die Wes-Kaap vanaf 9 tot 12 Maart.

Alhoewel die mielie-oes benadeel kan word deur swak oeste in plekke waar versuiptoestande voorkom, word steeds ’n oes van meer as 12 miljoen ton verwag.

1. Die afgelope twee weke
Bloedig warm toestande het voorgekom oor veral die Wes- en Noord-Kaap in die afgelope twee weke. Goeie neerslae van tot 150mm het voorgekom oor gedeeltes van die Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap in die week vanaf 22 Februarie maar die periode vanaf ongeveer 1 Maart was relatief droog. Tussen 40mm en 80mm het ook voorgekom oor die droogtegeteisterde Suid- en Oos-Kaap gedeeltes wat verligting gebring het, maar die laaste week sedert die begin van Maart 2010, het die baie warm toestande weer skade begin veroorsaak aan weiding en veral vrugte. Die groot hoeveelhede staande water in die Somerreëngebied veroorsaak nou dat peste en plae, soos dieresiektes, en so aan, begin ernstige afmetings aanneem.

2. Verwagting vir die volgende twee weke (8-22 Maart 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval

Min reën word verwag vir die week vanaf 8 tot 15 Maart oor die grootste gedeelte van die Somerreëngebied. Die baie droë gebied in die Oos-Kaap en aangrensende gedeeltes van die Suid-Kaap kan egter goeie neerslae verwag vir die periode vanaf 9 tot 14 Maart asook die moontlikheid van verdere opvolgreën vanaf ongeveer 17 Maart oor die Suid-Kaapgedeeltes.

Temperatuur
Temperature behoort steeds hoog wees oor veral die Noord-Kaap met maksimumtemperature hoër as 35 grade C in die sentrale tot westelike dele vir ten minste die volgende week tot 10 dae. Dit lyk nie asof daar enigsens ’n kans is vir ryp tot ten minste 20 Maart nie.

2.2 Winterreëngebied
Met ’n frontale stelsel wat die Suidwes-Kaap rondom 9 Maart gaan beïnvloed, kan temperature laer wees maar daar is ook ’n kans vir reën vanaf ongeveer 9 tot 12 Maart oor die Wes- sowel as Suid-Kaap. Redelike goeie neerslae van meer as 10mm is veral moontlik oor die Suid-Kaap gedeeltes.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Na ’n skerp daling in see-oppervlaktemperature vanaf Desember 2010 het El Niño redelik verswak in veral Januarie 2010. Sedert die middel van Februarie 2010 het temperature sywaarts beweeg en daar is selfs aanduidings van ’n effense herontwikkeling of opflikkering.

Kyk na onderstaande webbladsye.

Webwerf 1
Webwerf 2

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)

Die 30 dae gemiddelde SOI was op 8 Maart 2010 = -15.56 wat nog sterk El Niño neigend is.

Die maand van Februarie 2010 was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 3, (El Niño ontwikkelind). Kyk na onderstaande webbladsy deur op “World“ te kliek.

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreëngebied

Die kanse is steeds daar dat droër periodes kan volg maar die huidige El Niño wat neig op die rand van El Niño tot neutraal maak voorspellings byna onmoontlik oor die medium termyn. Die amptelike voorspelling gegrond op die SOI, dui op gemiddelde tot ondergemiddelde reënval vir die volgende 3 maande (kyk na webwef direk bo die opskrif hierbo).

4.2 Winterreëngebied
Met die effense versterking van El Niño kan dit ook reënvalvooruitsigte verbeter vir veral April tot Junie.

5. Tropiese siklone
Tot op hede was daar slegs 8 tropiese siklone in die Suidoos Indiese Oseaan. Die gemiddeld is ongeveer 21 per seisoen (November tot April) wat dui dat dit waarskynlik die laagste aantal siklone in ten minste die afgelope dekade gaan wees.

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Grondvogtoestande in die droëland gebiede van die Vrystaat is egter baie gunstig vir aanplantings. Die baie lae en onwinsgewende koringprys veroorsaak egter dat boere nie gretig is om koring te plant nie.

Die huidige swak mielieprys en verwagte groot mielie-oes tesame met ’n moontlike verhoging in die koringprys as gevolg van die oorweging van invoertariewe, kan egter die aanplantings vir 2010 ’n hupstoot gee.

6.2 Somergraan
Die warm en sonskyntoestande van die laaste week tot 10 dae het baie gehelp om die effek van die oormaat reën teen te werk. Daar is egter gebiede waar versuiptoestande permanente skade aangerig het. Oor die algemeen is toestande baie goed maar gedeeltes van veral die westelike produksiegebiede begin reën benodig. Dit is veral die gebied tussen Koster en Lichtenburg waar reën dringend benodig word.

Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Januarie 2010 is beraam op tussen 11,9 en 13,1 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,4 miljoen ton.

In hierdie gevorderde stadium van die oes is die enigste risiko’s wat wel die oes nog op ’n groot skaal kan beinvloed die voorkoms van vroeë ryp asook baie swaar reën. Droogte en hitte kan nog ’n invloed uitoefen maar die kanse dat die oes met meer as 10% benadeel kan word, is klein.

7. Storms in Australië (5-7 Maart 2010)
Daar het baie groot skade voorgekom in gedeeltes van Queensland maar veral Suid-Australië as gevolg van hael en stortreën. Gedeeltes in en om Melbourne en Sydney het veral deurgeloop.

Daar is dikwels ’n verband tussen die weer- en klimaatspatrone van Australië en Suid-Afrika omdat beide lande ongeveer op dieselfde breedtegraad geleë is in die Suidelike halfrond. Dit kan ’n aanduiding wees dat die stormagtige weer wat die afgelope paar maande geheers het, nog nie verby is in Suid-Afrika nie.

* Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein

9 Maart 2010
 

4.333335
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.