Reën kan tot Dinsdag in dele van die land val nadat die swaarste reënbuie in baie jare in veral die Noordwes Provinsie, die Vrystaat, Gauteng en Noord-Kaap voorgekom.
1. Die afgelope week
Die swaarste reënneerslae in baie jare het voorgekom oor gedeeltes van veral die Noordwes Provinsie, die Vrystaat, Gauteng en Noord-Kaap, asook enkele ander plekke. Die reën is veroorsaak deur ‘n sterk laagdrukstelsel oor Botswana en die noordelike dele van die Noordwes Provinsie.
Dit is ‘n tipiese somerstelsel wat versterk is deur die deurbeweeg van ‘n koue front aan die begin van die reëntydperk. Die reën wat wel voorgekom het, asook die aard van die reën (donderweer asook opvolgreën oor ‘n paar dae) is ‘n teken dat die afgelope seisoen baie later as normaal was, omdat soortgelyke stelsels normaalweg in April reeds ophou om voor te kom.
Hierdie verskynsel is waarskynlik meer gekoppel aan die afgelope La Nina (Koeler as normale see-temperature in die sentrale Stille Oseaan) se effek as klimaatsverandering. ‘n La Nina veroorsaak gewoonlik ‘n laat seisoen (die aanvang van die reënseisoen sowel as ryp-seisoen is gewoonlik 2 tot 4 weke later as normaal met La Nina).
2. Verwagting vir die volgende twee weke (19 Junie tot 3 Julie)
2.1 Somerreëngebied
Reën is steeds moontlik oor groot gedeeltes van die Somerreëngebied, maar veral gekonsentreer oor die sentrale tot suidoostelike dele (Vrystaat, Noordwes, Oos-Kaap, Noord-Kaap) tot ongeveer Dinsdag 23 Junie.
Dit lyk asof die meeste aktiwiteite uitgewoed behoort te wees teen die laaste deel van volgende week (vanaf ongeveer 25 Junie) en dat min reën behoort voor te kom oor bykans die hele land met die uitsondering van die Suid- en Ooskus-gebiede vir die laaste week van Junie.
2.2 Wes-Kaap
‘n Sterk frontale stelsel kan vanaf ongeveer Maandag reën bring oor die Wes-, Suid- en Oos-Kaap. Baie koue toestande kan dan ook verwag word met ‘n moontlikheid van sneeu op die berge.
Min reën word verwag in die laaste week van Junie.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Nino Suidelike Ossillasie) - Stille Oseaan
Min verandering het die afgelope week plaasgevind en die Nino 3.4 gebied is tans ongeveer 0.5 grade C warmer as normaal wat op die grens tussen neutraal en El Nino is. Aanduidings is steeds dat temperature in die belangrike Nino 3.4 gebied kan styg tot rondom 20 grade C warmer as normaal wat as ‘n redelike sterk El Nino geklassifiseer kan word.
Dit is egter baie vroeg in die seisoen en see-oppervlaktemperature is geneig om baie vinnig te verander in die maande Mei tot Julie. Indien die tendens steeds teenwoordig is teen Augustus is die kanse baie goed (>80%) dat ‘n El Nino kan voorkom en aanhou tot ten minste die einde van die midsomer (Januarie 2010).
3.2 Somerreënvalgebied
Implikasies van die huidige stand van sake is ‘n bogemiddelde kans vir lentereën in September en Oktober, met ondergemiddelde reën in die midsomer, wat gepaard kan gaan met baie warm toestande.
3.3 Winterreëngebied
Ondergemiddelde reënval is moontlik oor die westelike dele van die Wes-Kaap rondom Julie maar verbeter teen Augustus en September. Met die redelike sterk sein van El Nino tipe toestande vir die komende maande bly die kanse redelik goed vir reën.
3.4 SOI
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Nino/La Nina. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Nino) en +30 (baie sterk La Nina).)
Die 30 dae gemiddelde SOI neig sterker negatief (-7.6 op ‘n skaal van -30 tot +30) of El Nino neigend (-30 is baie sterk El Nino neigend).
3.5 Is daar ‘n verband tussen winter- en somerreënval?
Die vraag word dikwels gevra of bogemiddelde reënval in die winter ‘n aanduiding is van ‘n droë somer wat volg in die Somerreënvalgebied.
Antwoord:
Reën in die maande Junie, Julie en die eerste deel van Augustus is dikwels meer gekoppel aan die voorafgaande seisoen as die volgende seisoen. Daar is egter ‘n redelike sterk aanduiding dat reën in die tweede deel van Augustus, maar veral September en Oktober ‘n negatiewe korrelasie toon met reën in die volgende midsomer (November tot Januarie) en omgekeerd. Dus is goeie en bogemiddelde reën in die lentemaande dikwels ‘n voorteken van swak toestande in November tot Januarie. Februarie is dan weer beter mits tropiese siklone in die Indiese Oseaan nie te ernstig is en te naby aan die kuslyn kom nie.
Kyk dus eers wat vanjaar in die lente gaan gebeur voordat ernstige besluite geneem word en moet nie te veel bekommer oor die afgelope week se reën nie.
4. Skeertyd vir kleinvee
Die kanse vir reën en koue toestande bly steeds hoog in veral vanaf die tweede deel van Augustus. Die tydperk vanaf middel Julie tot middel Augustus lyk na ‘n tydperk waar min reën verwag kan word en waarskynlik die periode met die laagste risiko vir skade.
5. Waarskuwings
- Reen is steeds moontlik oor die somerreengebied tot ongeveer 23 Junie. Dit lyk nie asof meer as 20 mm behoort voor te kom nie. Veral grondboonboere moet maar versigtig wees om nie te gou grondboonhope om te keer nie.
- Min of geen verdere reën word verwag vanaf ongeveer 24 Junie nie. Min reën word ook verwag in Julie.
- Koue en nat toestande oor die Wes-Kaap maar veral die suidelike dele van die Noord-Kaap asook groot gedeeltes van die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Vrystaat en KZN kan in die eerste deel van volgende week (21 tot 25 Junie) voorkom wat gevaar inhou vir vee.
<li>Johan van den Berg is ‘n weerkundige in diens van Santam Landbou, Bloemfontein.
19 Junie 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)