|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Goeie, maar wisselvallige reën het sedert die middel van Desember oor groot dele van die droogtegeteisterde somerreënvalgebied van die Noord-Kaap geval.
Vir verskeie plase het die “reënseisoen” op 15 Desember geopen, waarna dit ook op Kersdag, Oujaarsdag en maandag (3 Januarie) weer gereën het. Die meeste plase in die noordwestelike deel van die Boesmanland en ook in die distrikte Williston en Brandvlei het reën gekry.
Ongelukkig is daar steeds boere wat geen reën gekry het nie, en die stryd teen die droogte moet voortsit.
Vir boere soos mnre. Danie Jacobs, wat tussen Springbok en Pofadder boer en 22 maande laas noemenswaardige reën gekry het, is die 28mm tot 46mm wat hy op verskillende dele van sy plaas gemeet het, ‘n groot uitkoms en kan dit beteken dat hy binnekort nie meer sy skape hoef te voer nie. Mnr. Adri Agenbag van die plaas Naroep, wat op Oujaarsdag tussen 20mm en 30mm reën gekry het, sien ook uit na ‘n blaaskansie van voer gee.
Me. Karin Nel, wat saam met haar man Jan op die plaas Gamoep boer, sê hulle het gister weer 14mm gekry. Op Kersdag het dit op een van hul ander plase 40mm gereën. Tussen Williston en Brandvlei is die damme vol en die driedoringbossies is groen en het geblom, sê mnr. Brand du Toit, wat daar boer. Hy het sedert Desember reeds 157mm reën gekry. Volgens hom het die meeste boere in die distrik Williston minstens 50mm reën gekry.
Die reën het ongelukkig ook sprinkane gebring, dog Du Toit sê bestrydingspanne is aangestel.
5 Januarie 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)