Dele van die Noord-Kaap het dié week ook onder oorstromings deurgeloop nadat die Vaalrivier sy walle oorstroom het.
“Ons verwag dat die rivier sy piek Vrydag of Saterdag sal bereik. Al die water wat hoër op in die rivier ingelaat is, het nog nie hier uitgekom nie”. Dis volgens mnr. Dup Haarhoff, die direkteur van navorsing en ontwikkeling by die landbou-onderneming, GWK, ná oorstromings die week ook in die Noord-Kaap voorgekom het. Hy sê die watervlak van die rivier het met tussen 5 en 7 meter gestyg.
Vaallis-streek geraak
Haarhoff sê veral boere in die Vaallis-streek, naby Douglas, het deurgeloop, met party se spilpunte wat totaal deur die water bedek word. “Een van die grootste bekommernisse tans is egter dat boere nie hulle aanplantings kan besproei nie”.
Volgens Haarhoff is die krag tydelik afgeskakel weens veiligheidsredes, en is die meeste boere se waterpompe onder water. “Die boere kan dus nie tydens ‘n baie kritiese tyd hulle mielies en ander gesaaides besproei nie!” Haarhoff voorsien dat dit die geval gaan wees vir ten minste nog vier of vyf dae.
Baie boere se mielies, lusern en sonneblomme is onder water, vertel Haarhoff. Hy is ook bewus van sowat 2 ha se wingerde wat by een boer onder water is. “Die skade sal alles egter eers bepaal kan word wanneer die water afloop”, sê hy.
Namibië gewaarsku
Intussen het owerhede in Namibië ‘n waarskuwing uitgereik aan mense wat langs die Oranjerivier woon. Luidens ‘n berig in die Republikein sou die eerste vloedgolf na verwagting die Noordoewer teen vandag (Donderdag) bereik het.
Daar is terselfdertyd ook ‘n waarskuwing aan inwoners langs die Kavango- en Zambeziriviere uitgereik om op hulle hoede te wees vir moontlike oorstromings wat kan voorkom.
Bron:
4 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)