Ontstellende afname in reënval

 
Droog. Foto: KOOT MARAIS
Droog. Foto: KOOT MARAIS

‘n Ontstellende afname in reënval vir die jaar tot dusver is in elke streek van die Wes-Kaap aangeteken, sê Agri WK.

Luidens ‘n verklaring is die aanvanklike blydskap oor die eerste swaar reëns besig om na bekommernis oor te slaan, aangesien elke opname ‘n daling in reënvalsyfers toon.

Die organisasie het in samewerking met sy landbouverenigings die verskillende streke se reënvalsyfers van die afgelope twee jaar vergelyk en skokkende ontdekkings gemaak. Die opname is op individuele plase gedoen, en hoewel dit nie noodwendig die totale provinsie se reënval verteenwoordig nie, gee dit steeds ‘n goeie aanduiding van die moontlike krisis.

Die syfers
“Op een plaas in Franschhoek is byvoorbeeld slegs 472.5mm reën vanaf Januarie tot middle-Augustus gemeet teenoor 612,5mm gedurende dieselfde tydperk verlede jaar.  Op ‘n plaas in die Koo-gebied in die Breedevallei het ons ‘n afname van 352 mm na 182.5mm opgetel,” lui die verklaring.

In Grabouw, wat gewoonlik ‘n sterk reënvalstreek is, is slegs 68mm op die spesifieke plaas gemeet. Die plaas kry tradisioneel goeie reëns tot in November, maar as die jongste weervoorspellings vir die volgende drie maande in ag geneem word, gaan die streek se syfers vir die jaar baie laer wees.

Op ‘n plaas in Villiersdorp, wat in dieselfde gebied lê, is ‘n totale afname van 79mm teenoor verlede jaar se syfers aangeteken. Reënval in die Warm Bokkeveld en die Ceres-distrik is onderskeidelik sowat 300mm en 97mm minder. In Murraysburg en die sentrale Karoo staan die totale reënvalsyfers tot dusver op onderskeidelik 180mm en 148mm. Dit is ‘n daling van 32mm.

Die Kleinswartberg-omgewing by Lainsburg is ‘n totale afname van 72,4mm gemeet, terwyl plase in Philadelphia en die Koeberg afnames van 180mm en 96.6mm aangeteken het.

Moeilike tye vorentoe

“Die landbousektor is afhanklik van water vir die produksie van voedsel en met dié lae reënvalsyfers en voorspellings van ‘n langdurige warm en droë somerseisoen wat binnekort begin, lê daar moeilike tye vir die sektor voor,” sê Agri WK. 

2 September 2010

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.