Boere in die Overberg is verheug oor die sagte, deurdringende reën wat die afgelope dae oor die grootste gedeelte van die distrik uitgesak het, sê die Overberg Distrikslandbouvereniging.
Luidens ‘n verklaring ervaar die Overberg-streek sedert die naweek gunstige weertoestande vir reën.
In die Bredasdorp-vlakte en in die Standveld-omgewing is tot soveel as 24mm op plase gemeet. In die Ouplaas-, Rûens- en Greyton-omgewings is tussen 8mm en 9mm gemeet. Volgens mnr. Johan Montgomery, die voorsitter van die Overberg Distrikslandbouvereniging, het sowat 20mm in die Hemel-en-Aarde-vallei geval.
Volgens die verklaring is sowat 10% se meganiese windskade egter ook deur sommige vrugteboere in die vallei aangemeld. Veral jong aanplantings het skade gely.
In ander dele van die distrik wag boere nog dringend op reën. In die Riviersonderend/Stormsvlei-omgewing het ‘n skrale 3mm reën geval. Volgens mnr. Schalk Viljoen, hoofbestuurslid van Graan SA in Streek 27, wag baie graanprodusente in die Stormsvlei/Swellendam-omgewing dringend op goeie reën.
Bemoeilik saaiery
Viljoen sê sommige produsente wil nie koring teen die huidige swak pryse aanplant voordat dit gereën het nie. Mnr. Willie Smal, ‘n graan- en veeboer in die Greyton-distrik, sê die gebrek aan reën bemoeilik saaiery, aangesien die onkruide nog nie opgekom het nie, en dus nie bestry kan word nie.
Volgens Smal het sommige skaapboere se voer opgeraak, en is selfs van die plaaslike landboubesighede se voergarsvoorrade uitgeput. Boere sal hulle moontlik na mielies as voer moet wend, maar dit is veel duurder as gewone voer.
Volgens die verklaring is produsente in die Overberg oor die algemeen tevrede met die reënval. Mnr. Déan Kleynhans, die nasionale voorsitter van die Melkprodusente-organisasie (MPO), het na die 9mm wat in die Rûens-distrik geval het, as “manna uit die hemel” verwys.
Mnr. Orton King, hoof uitvoerende beampte van die ODLV, sê: “Om in ‘n ongunstige bedryfsomgewing die natuur ook sleg te ervaar, is uitputtend vir enige ondernemer. In hierdie stadium is die produsente oorgelewer aan hul sterk geloof om oorlewing te verseker en om steeds hul belangrike bydrae te lewer. Dus het die onlangse reën groot uitkomste gebring en ons vertrou dat die dele wat nog nie reën gekry het nie, ook betyds reën sal ontvang.”
Intussen sê boere in die George- en Langkloof-omgewings dat hulle nog steeds geen reën ontvang het nie. Mnr. Andre de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê volgens voorspellings kan hulle wel dié week reën verwag, en hulle hoop dat dit binnekort sal wees.
13 Mei 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)