“Wetenskaplikes voorspel dat die westelike dele van ons land in die toekoms droër gaan word, en die oostelike dele meer reënval gaan kry”.
Dít volgens dr. Harrison Pienaar, direkteur van hulpbronbestuur by die Departement van Waterwese en Omgewingsake. Hy het tydens die nasionale vieringe van Wêreld-vleilanddag in Pretoria gesê dít is een van die redes hoekom die departement tans ‘n strategiese plan vir die uitwerking van klimaatsverandering op die land se waterbronne saamstel.
Vier verskillende gebiede is reeds uitgeken waar staatsdepartement moet toetree om die uitwerking van klimaatsverandering te help aanspreek. Dié gebiede sluit vleilande, kusgebiede, tropiese woude en gebiede belangrik vir voedselsekuriteit in.
Pienaar sê weens die invloed wat verandering van die klimaat reeds op Afrika het, is me. Buyelwa Sonjica, Minister van Waterwese en Omgewingsake, angstig dat die plan afgehandel moet word.
“Die Minister wou dié verslag al gister gehad het!”
Landbou 'n uitdaging
Volgens mnr. Ikalafeng Kgakatsi, woordvoerder vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, is dit ‘n uitdaging om sommige boere se denkwyses oor die gebruik van hulpbronne soos elektrisiteit en water, te verander. Hy sê baie boere is nie bereid om ander metodes te gebruik nie, aangesien daar geen waarborg is dat die alternatiewe gaan werk nie.
Hy meen egter meer bewustheid moet geskep word oor die uitwerking van klimaatsverandering en die moontlikhede om dit teen te werk. Pienaar het ook bygevoeg dat sy departement steeds sukkel met boere wat water uit die Vaalrivier steel.
“Ons moes onlangs vir die minister ‘n scenario skep oor water wat in Suid-Afrika gesteel word. Volgens opnames het boere langs die Vaalrivier oor ‘n periode van ‘n paar jaar die ekwivalent van die hoeveelheid water in die Katzé-dam in Lesotho, uit dié rivier gesteel.”
Pienaar sê dis moeilik om dié verskynsel tans te monitor, maar hy hoop dat dit in die toekoms hokgeslaan kan word.
Munisipaliteite moet sokkies optrek
Die storting van riool deur verskeie munisipaliteite in die land se waterbronne, terwyl daar sprake van watertekorte oor ‘n paar jaar is, bekommer ook baie landsburgers en organisasies. Op ‘n vraag van landbou.com het Pienaar geantwoord dat daar baie nou met munisipaliteite saamwerk word om dié probleem te probeer bekamp nie.
Lees ook:
“Baie van hulle het eenvoudig erken dat hulle wel riool stort en dat hulle totaal oorweldig is deur die situasie. Dié is ‘n saak wat tans baie aandag geniet.”
3 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)