|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Reën wat middel-Desember oor dele van die Boesmanland, die somerreënvalgebied van Namakwaland, uitgesak het, bring hoop in dié droogtegeteisterde gebied.
Mnr. Manie Dixon, ‘n boer en voorsitter van Agri Namakwaland, was een van die gelukkiges wat 30mm tot 46mm reën in verskillende kampe op sy plaas tussen Springbok en Pofadder gekry het.
Mnr. James van den Heever het sowat 30mm reën op ‘n gedeelte van sy plaas Varsputs gemeet, terwyl reënval van 25mm en 18mm is onderskeidelik op die plase Varskaip en Bitterputs van mnr. De Graaff Genis gemeet is.
Volgens Dixon het die reën redelik streep-streep geval, want in ander dele van die Boesmanland het dit maar enkele millimeter of glad niks gereën nie. Waar dit wel gereën het, kan boere eersdaags verligting kry van die koste en sleurwerk van voer gee, terwyl die droogte in ander dele net besig is om te verdiep.
Mnr. Jan Nel van die plaas Gamoep in die Boesmanland het einde November gesê dit het sedert Januarie 2009 nie op sy plaas gereën nie, en dis die tweede keer in 10 jaar dat hy niks vee op die plaas het nie. Hy het vanjaar 20% minder lammers mark toe gestuur en ook lammers aan voerkrale in Upington verkoop.
Verskeie boere in Namakwaland besit grond in die winter- én somerreënvalgebiede om die risiko van droogte te verlaag. Vanjaar het dit egter ewe swak in albei gebiede gereën. Mnr. Johan Dixon wat reeds verskeie droogtes oorleef het sedert hy in 1980 saam met sy pa begin boer het, meen vanjaar was een van die swakste jare ooit.
“Voorheen het ons darem ‘n reserwe opgebou en altyd spaarveld gehad, maar vanjaar het daar nie eens opslag opgekom nie. Baie van ons gras is pikswart dood en sal moet hervestig.”
Volgens amptelike drakragnorme kan Dixon 1 800 skape aanhou, maar hy hou skaars 1 200 aan. “As ons vanjaar by ons drakrag gehou het, was ons verseker in die moeilikheid. Ek boer nou op groter grond met minder skaap as my pa.”
Mnr. Weich van Niekerk van die plaas Kangnas, buite Springbok, sê hoewel hy versigtig is om die droogte toe te skryf aan klimaatverandering, neem hy waar dat die winterreënperiodes in Namakwaland korter word.
Lees ook:
21 Desember 2010
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)