Reën: Verligting vir George

 
Die George-omgewing. Foto: www.george.org.za
Die George-omgewing. Foto: www.george.org.za

Boere in die George-distrik is verlig na ‘n welkome 40mm reën verlede week in die droogte geteisterde gebied geval het.

Mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging, sê groot blydskap heers oor dié reën. “Dit het net betyds gekom want dinge het net weer krities begin lyk na die vorige neerslae wat ons gehad het.”

Volgens Gericke wag boere tans dat die reën se water na damme afloop.  Boere in die omgewing se besproeiingsdamme is tans tot 40% vol, en daar is hoop dat watervlakke nadese sal styg.

Gericke meen dat George as ‘n dorp deur die ergste deel van die droogte beweeg het, aangesien die Tuinroetedam tans 50% vol is. Die waterbeperkings in die stad sal egter eers opgehef word nadat dié dam meer as 60% vol is.

Die grootste waterherwinningstelsel in die land is ook vir die dorp bekendgestel. Dit behoort daagliks 10 megaliter se herwonne water aan die dam te verskaf. 

Beperkings vir Wolwedansdam
Boere wat tans water uit die Wolwedansdam naby Mosselbaai onttrek, staar egter waterbeperkings in die gesig aangesien dié dam en sy opvangsgebied minimale reën ontvang.  Gericke sê dit reën minder in dié opvangsgebied as rondom George en dat die gebied tans bitter droog is.

“ ’n Aantal boere is van die dam afhanklik vir hul water en hulle is baie op hul senuwees oor die komende somer. As dit nie binnekort baie in dié omgewing reën nie, gaan hulle nie water hê vir besproeiing nie.”

Die dam verskaf ook water aan Mossgas en PetroSA. 

23 Augustus 2010

0
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.