Wolke oor koringland. Foto: CHARLES SMITH
’n Bogemiddelde kans vir reën oor groot gedeeltes van die somerreëngebied bestaan vir September, maar ’n oormaat reën kan tydens strooptyd in die winterreëngebied sake bemoeilik.
1. Die afgelope twee weke
Baie koue toestande met ligte sneeu het oor gedeeltes van die Vrystaat, Oos- en Noord-Kaap asook die Wes-Kaap voorgekom. Min reën het voorgekom oor die somerreëngebied maar baie swaar neerslae en oorstromings het voorgekom oor die Suidwes-Kaap en Kaapse stedelike gebiede. Baie swaar ryp met minimum temperature benede -5grade C het plek-plek voorgekom.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (25 Augustus tot 7 September)
2.1 Somerreëngebied
Min of geen reën word verwag vir die periode tot ten minste 3 September oor die grootste gedeelte van die somerreëngebied nie. Enkele buie is egter moontlik oor die suidoos- en ooskusgebiede en aangrensende binneland vir die periode vanaf 27 tot 29 Augustus.
Die toestande vir reën verbeter rondom 3 September oor veral die sentrale tot oostelike gedeeltes van die land.
2.2 Winterreëngebied
Alhoewel ten minste twee koue fronte in die laaste week van Augustus die Kaap gaan tref, lyk die kanse vir reën redelik skraal tot ten minste die einde van Augustus. Reën kan weer verwag word in die eerste paar dae van September en veral vanaf 4 September wanneer ’n redelike sterk stelsel verwag word.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
Die belangrike Niño3.4-gebied se temperatuur het die afgelope week weer effens gedaal maar is steeds op ongeveer 0.7grade C warmer as normaal. Dit behoort egter van korte duur te wees aangesien die El Niño-ontwikkeling steeds aan die gang is. As ’n mens egter ’n vertikale snit van die sentrale Stille Oseaan beskou, is temperaure vir bykans die boonste 200m heelwat warmer as normaal wat ’n aanduiding is van ’n redelike sterk ontwikkelde stelsel. Klik hier.
Die ander Niño-gebiede (met die uitsondering van die Niño 1+2-gebied) se temperatuur-afwykings het die afgelope week ook effens gedaal maar dit behoort ‘n tydelike tendens te wees. Klik hier.
Voorspellings dui steeds op ‘n maksimum verwarming van tussen 2grade C en 2.5grade C warmer as normaal in die komende somer wat as ‘n sterk El Niño beskou kan word. Hierdie voorspelling bly redelik konstant die afgelope twee maande wat aandui dat daar ‘n redelike mate van sekerheid is. Die voorspelde draaipunt is eers teen Maart 2010 wat ‘n redelike negatiewe sein is vir mid- tot laatsomer-reënval. Klik hier.
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30 dae gemiddelde SOI is nou redelik sterk negatief nadat dit op 1 Augustus nog +1.19 was en op 24 Augustus was dit reeds -5.57. Klik hier.
Die maand van Julie was amptelik volgens die SOI fase sisteem in Fase 5 of neutraal en dit word verwag dat Augustus as ’n SOI vinnig dalende fase geklassifiseer kan word wat die El Niño-ontwikkeling illustreer. Klik hier en op "World".
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Voorspellings van die SA Weerdiens wys ’n bogemiddelde kans vir reën oor groot gedeeltes van die land vir September. Die langer termyn voorspellings dui ook op bogemiddelde kanse vir reën tot November maar heelwat swakker vir veral Desember en Januarie asook Maart 2010.
4.2 Winterreëngebied
Met die SOI wat besig is om te daal en die El Niño neiging te volg, gee dit ook beter kanse vir reën in die volgende paar maande. Die kanse vir oormaat reën tydens strooptyd het vergroot nadat aanvanklike aanduidings voorgekom het dat dit droër sou wees.
Mnr. Johan van den Berg is ’n weerkundige in diens van Santam Agri in Bloemfontein.
23 Augustus 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)