|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Hoofnuus
Verdere reën is moontlik oor die somerreëngebied in Mei 2011. Voor 17 Mei behoort die reën gekonsentreer te wees oor die sentrale tot suidoostelike binneland (die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap), maar vanaf ongeveer 17 Mei oor die somergraangebiede. Droër toestande kan in die tweede deel van die winter en lente verwag word.
Min reën word oor die volgende twee weke oor die winterreëngebied verwag.
Die La Niña-verskynsel het verswak en die eerste ernstige aanduidings van veranderings het begin plaasvind met die Suidelike Ossillasie Indeks (SOI) wat vir die eerste keer skerp begin reageer het. See-temperature behoort oor die volgende paar maande na normaal te neig.
Swak weerstoestande (nat en koue toestande) in Amerika veroorsaak dat aanplantings baie vertraag word. Die kans op droogte in die tydperk van Junie tot Augustus bly bogemiddeld vir die Amerikaanse graangordel.
Die afgelope twee weke
Minder reën het oor die somerreëngebied begin voorkom, maar dit is steeds baie nat oor groot dele en boere sukkel om in die landerye in te kom om grond te bewerk asook om te kan oes.
Veeboere sukkel ook steeds met siektes en interne parasiete by hulle vee. Verligting van die droogte het begin voorkom in die Wes- en Suid-Kaap en in sommige dele het meer as 20 mm reeds voorgekom.
Dít sal wintergraanboere baie help om bewerkings te kan doen sodat betyds voor einde Mei geplant kan word. Reën het ook in die Langkloof voorgekom.
Verwagting vir die volgende twee weke (9 tot 23 Mei 2011)
Somerreëngebied
Reënval
Die kans op reën is besig om effens te verswak, maar enkele tot selfs verspreide buie bly steeds baie moontlik oor die grootste gedeelte van die somerreëngebied.
Dit is veral oor die sentrale dele waar die kans goed bly as gevolg van vog wat steeds vanuit die trope beskikbaar is. Dit lyk egter asof min of geen reën vir die tydperk tot ongeveer 13 Mei oor die noordelike en noordoostelike helfte van die land gaan voorkom.
Buie bly egter moontlik oor veral die sentrale tot suidwestelike dele wat die Suidwes-Vrystaat, groot dele van die Noord- en Oos-Kaap en selfs dele van die Wes-Kaap kan insluit.
Vanaf ongeveer 16 Mei verbeter die kans weer op reën oor die sentrale tot oostelike en noordelike dele met redelik swaar neerslae wat plek-plek weer moontlik is oor dele van die Vrystaat en aangrensende gebiede in die tydperk van 16 tot 25 Mei.
Temperatuur
Temperature gaan koel tot koud bly, maar strawwe ryp word nie verwag nie.
Winterreëngebied
Hoewel ’n paar kouefronte die afgelope twee weke die suidelike dele van die land begin beïnvloed het met reën oor die Suidwes- en Suid-Kaap, lyk dit nie asof daar sterk kouefronte oor ten minste die volgende twee weke gaan voorkom nie.
Dit kan veroorsaak dat opvolgreën binne die volgende twee weke redelik beperk gaan wees. Winde behoort steeds ’n oostelike komponent te handhaaf wat ook aandui dat tipiese winterstelsels nog nie verwag word nie.
See-oppervlaktemperature
ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
See-temperature in die Niño-gebiede is nou baie naby aan neutraal met die Niño-3.4-gebied wat egter nog ongeveer 0,5 ºC koeler is as gewoonlik (by die piek was dit ongeveer 2 ºC koeler as gewoonlik).
Die Niño-1, -2 en -3-gebiede is tans al effens warmer as gewoonlik of op die normaallyn. Die verwagting is dat dit vir die volgende maande rondom normaal behoort te bly. Daar is aanduidings dat die 2011/’12-tydperk neutraal tot weer effens La Niña-neigend kan wees.
SOI
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdrukverskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ’n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ’n aanduiding gee van die stand van die seetemperature. Die “ossillasie”-deel is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek aan of teenwoordigheid van oppervlakwinde uit die Suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ’n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI-waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die gemiddelde SOI vir April 2011 was +23,9 wat steeds baie sterk La Niña-neigend was.
Die 30-dae gemiddelde SOI op 9 Mei 2011 was steeds positief op +10,5, maar het sedert die begin van Mei ’n sterk begin daling toon. Dit is ’n aanduiding dat die La Niña-verskynsel uitgewoed is of baie naby daaraan is.
Vir meer inligting kliek hier.
Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
Vir meer inligting kliek hier.
Somerreëngebied
Hoewel die La Niña-verskynsel baie verswak en byna verdwyn het, sal die uitwerking daarvan nog vir ’n tydjie voortduur. Dit kan veroorsaak dat daar gedurende Mei en selfs die eerste deel van Junie steeds reën kan voorkom, maar dat die res van die winter en lente droog behoort te wees.
Winterreëngebied
Hoewel enkele kouefronte reeds die Kaap begin beïnvloed, word ondergemiddelde reënval steeds verwag oor veral die westelike dele van die Wes-Kaap vir die eerste deel van die winter (Mei en Junie).
’n La Niña-verskynsel is verantwoordelik dat winterstoestande met gereelde kouefronte later as gewoonlik begin aktief word.
Tropiese siklone
Daar was vanjaar ’n abnormale lae aktiwiteit van siklone in die Indiese Oseaan, veral die westelike Indiese Oseaan. Die sikloontydperk in die Suidelike Halfrond is nou verby.
Graanproduksie
Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap)
Toestande vir wintergraanproduksie in die Vrystaat lyk baie belowend met die groot hoeveelhede grondvog beskikbaar. Met die groot verhoging in kommoditeitspryse vir grane sal heelwat boere in die sentrale graanproduserende gebiede oorweeg om koring aan te plant.
Boere sukkel egter om landerye te bewerk as gevolg van die baie nat toestande. Produksie toestande lyk egter steeds minder gunstig vir die Wes- en Suid-Kaap vir veral die eerste deel van die winter hoewel reën sedert die laaste week van April begin voorkom het.
Somergraan
Versuiptoestande in die Noordwes-Vrystaat asook droogteskade in Mpumalanga kan die mielie-oes nadelig beïnvloed. Relatief tot die totale oppervlakte is dit kleiner oppervlaktes. Oor die algemeen is die toestand van veral mielies baie goed oor die grootste deel van die land.
Die tweede oesskatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n mielie-oes van ongeveer 10,8 miljoen ton. Die gevoel is steeds dat dit te hoog is, gegewe die skade wat reeds voorgekom het en die verwagte uitwerking van pitmassa en gehalteverliese as gevolg van siektes. Min hitte-eenhede kan ook pitmassas nadelig beïnvloed.
Internasionaal
Amerika
Amerika se belangrike planttyd van somergrane is in die tydperk van April tot einde Mei. Met die baie lae voorraadvlakke in die wêreld van veral mielies, kan ongunstige weerstoestande verantwoordelik wees vir ’n hoë onbestendigheid in internasionale (en plaaslike) graanpryse.
Ongunstige weerstoestande met veral ’n oormaat reën en koue toestande vertraag die aanplantingsproses. Teen einde April vanjaar was minder as 20% van die verwagte mielie-aanplantings gedoen wat minder as die helfte is van die laaste vyf jaar se gemiddelde oppervlakte teen einde April.
Daar is egter sterk aanduidings dat droër toestande kan voorkom in die belangrike vegetatiewe tot reproduktiewe tydperk vanaf Junie tot Augustus.
11 Mei 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)