Slegte weer pla in Kaapse oestyd

 
koring platsny. Foto: ROGER SEDRES, Media24
koring platsny. Foto: ROGER SEDRES, Media24

Reën en stormsterk suidoostewinde ry Suid-Kaapse graanboere se oesplanne kwaai in die wiele.

Hoewel boere in die Riversdal-omgewing se oeste al ingesamel is, is daar boere by Riviersonderend wat skaars begin het. Mnr. Kobus Horne van Pienaarsrivier, Riversdal, het “gedruk” om klaar te oes voor einde Oktober se groot reën (42 mm) en sterk wind, en hoewel die oes nie so goed soos verlede jaar is nie, is hy tevrede met die sowat 2,7 t/ha koring, 3,1 t/ha en 1,3 t/ha kanola wat hy vanjaar geoes het.

Buite Riviersonderend het mnr. Wessel-Jan van Deventer nog net een dag geoes. “Hier staan ‘n vreeslike goeie oes op die lande, so ons is taamlik bekommerd oor die reën.” Die groot probleem is by die platgesnyde gars wat dalk kan uitloop en nie aan vermoutingstandaarde voldoen nie.

Mnr. Jannie Baard van Parklands, Witsand, het begin Oktober 83 mm en nou 70 mm reën gekry.
Hy het redelik windskade op sy kanola gekry, maar sien uit na ‘n goeie koringoes.

Mnr. Jacobus Human van Eerstekop, Heidelberg, sê met die meer as 130 mm reën wat hulle in twee sarsies in Oktober gekry het, groei die lusern mooi, en is daar vog in die grond wat tot voordeel van volgende jaar se oes sal wees.

28 Oktober 2009

0
 
 

Kommentaar

Butch

Amelia, mag ek jou mening vra. Ek is bewus dat ons die algemene term " slegte weer" gebruik wanneer dit reën wanneer dit nie nie eintlik welkom is nie. Selfs die mannetjies by die Kaapse radiostasies praat van "bad weather" en "horrible weather" wanneer dit in die Kaapse middestad in die middel van die winter lekker reën om al die damme vol te maak. In my oë is reën veel meer werd as goud. en het ekgewonder of mens nie eerder kan praat van onweer of swaar weer eerder as slegte weer nie. Ek meen uit beginsel behoort 'n landbouer nie reën met "sleg" te vergelyk nie en het ek gewonder of mens nie eerder 'n ander term kan gebruik wat minder afbrekend is nie.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.