Die sneeu wat vir die naweek in die Wes-Kaap voorspel is, kan help om die droogte in die provinsie te breek.
Luidens ‘n berig op News24.com word baie koue weer vir die provinsie die naweek voorspel. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens verwag dat temperature Vrydag op Sutherland tot ‘n maksimum van 7 grade C en ‘n minimum van 3 grade C kan daal.
Sneeu word op die Hexrivierberge, die Cederberg, die Worcesterberge, die Koue Bokkeveld en Sutherland voorspel. Baie koue en nat weerstoestande word ook verwag, met maksimumtemperature wat na verwagting 10 grade C sal wees.
Sneeu kan in droogte help
Intussen sê prof. Kobus Botha, ‘n landboukundige en amateur-weervoorspeller, die sneeu kan die droogte help verlig, maar dit sal nie die droogte in die provinsie breek nie. “Sneeu is ‘n baie goeie ding vir ‘n droogte. Dit vat lank om te smelt en in die grond in te syfer, so dit loop nie weg soos water nie. Ek is wel bevrees dat sneeu nie die droogte gaan breek nie.”
Botha meen dat erge ryp die naweek plek-plek in die suidelike provinsies kan voorkom. “Wat die erge neerslae aanbetref wat voorspel is, weet ek nie of daar oorstromings sal wees nie. Ek weet Vrydag het reeds sowat 13mm in die George-omgewing geval, maar ek weet nie van oorstromings nie.”
Kyk hier na satellietbeelde van die heersende weer oor Suid-Afrika. Klik afsonderlik op elk van die boonste twee beelde in die betrokke afdeling om 'n nader blik daarop te kry.
Bron: News24.com -
28 Mei 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)