“Ons is baie dankbaar en optimisties oor die reën wat oor die naweek in die gebied geval het.” Dít is die reaksie van mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging, na reën oor die naweek in die droogtegeteisterde Suid-Kaap neergesak het.
Gericke sê hy het reeds 38mm reën gehad, en ander boere het 35mm aangeteken. “Die ouens in die middel en westelike dele het nog net tussen 7mm en 8mm gehad. Ons is egter optimisties, want die suidoostewind waai nou sterk,” sê hy.
Ligte reën het gister in die omgewing begin uitsak, en volgens die weerdiens is die kans vir reën in dié gebied tot 60% vir die week.
Boere se probleme bly groot
Gericke sê die reën sal die omgewing baie help, maar die droogte het vir baie boere reeds groot skade tot gevolg gehad. Veeboere moet groot hoeveelhede voer vir hulle vee aanry, en sommige het groot dele van hulle kuddes verkoop.
Volgens Gericke het die omgewing sowat 200mm reën nodig om damme vol te maak. “Daar is sowat 400 damme in die Eden-distrik wat leeg is. Ek skat daar is sowat 200mm nodig om dié damme vol te maak.”
Natuurlike weerpatrone
Daar heers hoop dat weerstelsels sal verander en dat natuurlike weerpatrone in Maart of April sal terugkeer. “As daar net donderstorms begin val is dit ‘n goeie teken dat dinge na normaal kan terugkeer,” vertel Gericke.
Die George-munisipaliteit het vroeër aan landbou.com gesê dié gebied word die afgelope 14 maande deur die ergste droogte in 132 geteister.
22 Februarie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)