Reën en sneeu het uiteindelik oor groot dele van die Suid-Kaap geval, waar boere angstig vir ‘n uitkoms van ‘n erge droogte gewag het.
Mnr. Dèan Kleynhans, voorsitter van die Melkprodusente-organisasie, sê sneeu het op die meeste bergreekse in die Suid-Kaap uitgesak.
“Ons het ook goeie reën hier in die Bredasdorp-distrik gehad. Ons het deurdringende reën gekry, en orals waar jy kyk is dit mooi nat. Ek reken ons kan op dié reën vir die volgende maand deurkom. Daar is ook redelik baie afloopwater wat in ons natuurlike opgaardamme, wat al baie lank leeg staan, invloei,” vertel hy.
Volgens Kleynhans het tussen 30mm en 60mm reën in die Bredasdorp-distrik geval. Op Swellendam is 30mm gemeet, terwyl Heidelberg en Riversdal tussen 25mm en 35mm reën gehad het. Kleynhans sê die George-omgewing het sowat 40mm gekry.
Weiding oor ses weke
Kleynhans meen dat veeboere in dié gebiede oor ses weke weer weiding vir hul diere behoort te hê. “Ek dink produsente behoort oor ses weke weer hulle diere kan laat wei.”
Wat die sneeu betref, sê Kleynhans dit is ‘n belangrike bron van vog vir die omgewing. “Sodra die sneeu smelt, loop dit in die riviere en bergstrome in, en produsente kan dan van daar water onttrek.”
Die Langkloof is wit
Intussen sê mnr. Andre de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, groot dele van die distrik lê wit onder die sneeu. “Baie ouens is vasgesneeu, en dis goed koud hier, maar ons is baie dankbaar. Die sneeu is veral goed vir die vrugtebome wat nou moet rus. Dinge lyk al baie beter as verlede jaar,” vertel hy.
Kyk na foto's van die sneeu in die Langkloof.
Volgens De Wit het tussen 80mm en 100mm reën sedert verlede week in die omgewing geval. “Dit het Maandagmiddag 15:00 weer begin reën, en tot nou het ons 40mm gemeet. En dit reën nog steeds saggies, ondanks die sneeu.”
Boere in die Suid-Kaap hoop vir nog reën om die droogte te kan breek.
15 Junie 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)