“Hier heers ‘n groot senuagtigheid onder die boere, want die streek se warmste maande, Junie en Julie - wat met bergwinde gepaard gaan - lê voor en dis baie droog,” vertel mnr. Stephan Gericke, voorsitter van die George-boerevereniging.
Volgens Gericke het dié distrik in Februarie 80mm reën gehad, en op die oog af lyk die streek groener, maar hy sê die waterkrisis is tans groter as wat dit vóór dié reëns was.
“Boere met vee en melkbeeste het groot probleme met voer wat opraak en selfs die voorsiening van water aan diere in hulle kampe. Die weidings wat ná die reën aangeplant is se ontkieming is baie laag, en daar is nie water om dit te versorg nie. Ons hoop goeie reën val binne die volgende twee weke.”
Intussen sê die departement van watersake in die Wes-Kaap dit blyk of die droogte in die Suid-Kaap vererger het, ten spyte van voorspellings van reën tydens die winter in dié streek.
Droogte verereger
Luidens ‘n berig op News24.com sê die departement in ‘n verklaring: “Die huidige neiging dui aan dat die droogte vererger, veral in die westelike dele insluitend Mosselbaai, Riversdal en Heidelberg, waar geen reënverligting vir die volgende drie maande voorspel word nie.”
Volgens die departement word die situasie in Mosselbaai reeds aangespreek, maar aandag moet geskenk word aan meer doeltreffende watervoorsiening aan gemeenskappe.
Die Tuinroete-dam is tans 20,6% vol, die Wolwedansdam 23%, die Korente Poort-dam 29% en die Duiwenhoksdam 32%.
Intussen sê mnr. Andre de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, boere in dié gebied “is op hulle knieë weens die droogte”. Hy sê hulle weet nie meer wat om te doen nie, en hulle is nie seker wanneer hulle reën in die streek kan verwag nie.
Die Oos-Kaap gaan die afgelope drie jaar onder ‘n erge droogte gebuk, en De Wit sê ‘n groot kopseer is die trae hulp wat hulle van die Regering kry om die situasie aan te spreek.
Bron: News24.com
26 Mei 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)