Voorspelling vir El Niño?

 
El Niño. Foto: www.earthobservatory.nasa.gov
El Niño. Foto: www.earthobservatory.nasa.gov

Twyfel heers oor die gebruik van ‘n weerverskynsel waarvolgens die verskyning van El Niño glo 14 maande vooruit voorspel kan word. Luidens ‘n berig op News24.com meen  weerkundiges van die Research Institute for Global Change in Jokohama, Japan, ‘n ossillasie of skommeling wat in die Indiese Oseaan voorkom kan as ‘n vorm van waarskuwing dien vir El Niño.

Lees meer oor die navorsingstuk El Niño predictability.

Mnr. Takesh Izumo, hoof van die instituut, sê inligting wat tussen 1981 en verlede jaar ingewin is wys dat wanneer ‘n skommeling in die Indiese Oseaan voorkom, ‘n El Niño-weerverskynsel meer as ‘n jaar later in die Stille Oseaan volg. Hy sê die skommeling is die eerste keer in 1999 uitgeken, en dit kom elke twee jaar voor.  

Meer as een faktor bepaal weer
Mnr. Johan van den Berg, weerkundige en die bestuurder van produkontwikkeling by Santam Agri, sê hy is skepties oor die gebruik van die skommeling as waarskuwing. Hy sê as daar na die afgelope seisoen gekyk word was die voorspelling van El Niño se lewensiklus nie eers korrek nie.

“Daar was in die verlede ook al 'n klomp aansprake oor voorspellings in die langer termyn en gebruik van siklusse wat nie gewerk het nie, want dit is 'n baie interaktiewe stelsel waar meer as een faktor die werklike weer bepaal,” verduidelik Van den Berg.  

Lees ook:

Goeie reën, selfs vloede verwag

Van den Berg sê hy is bekommerd oor die feit dat die skommeling in die Indiese Oseaan net op laterale of sywaartse energieverplasing fokus. Hy sê energie word ook uitgeruil met die noordelike halfrond wat plaaslike stelsel uit fase gooi.

Hoe lyk die toekoms?
“Ek sal baie meer opgewonde wees as iemand met 'n goeie teorie oor hoe om El Niño se uitwerking jaarliks te voorspel, vorendag kom,” sê Van den Berg. Hy sê hoewel die vier grootste droogtes in die laaste drie dekades ooreengestem het met El Niño, was daar 'n klomp El Niño-jare waar geen rampdroogtes ervaar is nie en soms het selfs oorstromings voorgekom.

“As ons kan nader kom en weet of dit 'n "goeie" of "slegte" El Niño is wat volgende jaar kom kan die voorspelling van El Niño help”.

Bron:

News24.com

23 Februarie 2010

0
 
 

Kommentaar

Pieter Kleingeld 

Ek dink daar behoort baie omsigtig omgegaan te word met weervoorspellings. Hierdie jaar wat verby is is 'n baie goeie voorbeeld van wat kan gebeur sou onakkurate voorspellings wel gedoen word om welke rede ook al.

Die voorspelling van El-Nino het die landbougemeenskap se bemarkingsbesluite, risikobeheerbesluite en algemene boerderypraktyke wesenlik beinvloed. Waar die normale beginsel is om mielies te verkoop in die seisoen waarin dit geproduseer is het baie boere besluit om groot gedeeltes van hulle oeste terug te hou of SAFEX vooruitkontrakte op te neem om "die grootste droogte in 30 jaar" se effek te verminder. Baie beesboere sou addisionele voer voorsiening gemaak het ens. Gegewe die feit dat boere in die vorige seisoen gesukkel het om uiters hoe produksieskuld terug te betaal met toe reeds lae graanpryse is van hierdie boere nou nog minder in staat om die vorige verpligtinge saam met die huidige verpligtinge na te kom. Verder het die koper mark (en seker ook die produsente) vertroue verloor in die akkuraatheid van die huidige weervoorspelling as 'n meganisme om produksie te voorspel. Dit is soos die storie waar iemand wolf wolf skree en niks gebeur nie. Sou die wolf wel kom sal niemand ag slaan op die waarskuwings nie. Die impak is dat die risiko komponent uit die mielieprys weggelaat sal word vir die kort termyn (selfs in 'n relatiewe droeer jaar) voor daar weer regstellings in die plaaslike voorraadmarkte is. Ek dink hierdie jaar het gewys dat daar met uiterse verantwoordelikheid en omsigtigheid voorspellings gewaag moet word aangesien dit 'n wesenlike invloed op die besluite, strategiee en lewens van produsente en vervaardigers het. Alhoewel die wetenskaplikes El-Nino wel moontlik reg voorspel het, het hulle totaal en al die bal misgesit met die impak op die weerpatrone.

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.