|
|
|
| Bygewerk: | 27 May 05:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 76% |
| Wind: |
Dele van die Swartland en die suidelike deel van die Wes-Kaap het verlede week goeie reën gekry. Sekere gebiede is egter nog baie droog.
By Porterville het die water net ná Paasnaweek in vore op die lande en langs die pad gelê. Mnr. W.G. Treurnicht van die plaas Nu Hoop het 28 mm reën gemeet.
Ook tussen Piketberg en Moorreesburg was einde April se reën meer as verwag, sê mnr. Hennie Visser van die plaas Serviteurskraal. Hy het Woensdagoggend 15 mm reën gemeet. Die reën gee hulle ’n geleentheid om onkruid voor opkoms te bestry. As die koue weer egter voortduur, kan dit ontkieming en die ontwikkeling van weiding verhinder.
Die vroeë reën is van groot waarde, sê Treurnicht. “ ’n Mens besef nie nou hoe waardevol dit is nie, maar as die reën teen die einde van die seisoen vroeg ophou, kry jy die voordele van die weke wat aan die begin ‘bygesit’ is.”
Berigte van reën
Wisselende berigte van reën word uit die suidoostelike deel van die provinsie ontvang. Mnr. Dirk Hanekom van die plaas Geskenk in die Klipdale-omgewing het 20 mm gekry, mnr. Kobus Wessels van die plaas Schildskloof het 6 mm gekry, terwyl dit tussen Bredasdorp en Struisbaai 25 mm gereën het.
Buite Riversdal het mnr. Jan-Hendrik Joubert van die Joubert-boerdery tot 15 mm reën gemeet. Hulle het ook in November sowat 70 mm reën gekry – genoeg om droëlandlusern te sny.
By Heidelberg is dit egter nog baie droog. Volgens mnr. Pieter Gildenhuys van die plaas Kleinbosheuwel het dit buiten die 5 mm reën wat hulle op 26 April gekry het, die afgelope ses maande glad nie gereën nie.
Waar hulle in die verlede altyd in die somer reën gekry het en die aangeplante weidings kon groei en daar teen planttyd vog in die ondergrond was, is dit nou kurkdroog en voer hulle al maande lank hul vee. “Dinge is kritiek. Ons voer ons half bankrot.”
3 Mei 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)