Wind, sand knou somergraan

 
Stofstorm. Foto: HENDRIK STASSEN
Stofstorm. Foto: HENDRIK STASSEN

Hoofnuus
Sandstorms en wind het somergraan in die sentrale en westelike gedeeltes van die land beskadig en veral jong gesaaides in die Noordweste van die Vrystaat is geknou. Dit is tans nog te droog in dié gebied om te plant.

Die afgelope twee weke is deur baie warm en droë toestande gekenmerk behalwe in Mpumalanga, Gauteng en KwaZulu-Natal, waar goeie reën voorgekom het. Dit sal na verwagting in die volgende twee weke in die somerreënvalgebied uitsak terwyl die winterreënvalgebied min reën kan verwag tot ongeveer 21 Desember.

1. Die afgelope twee weke
Baie warm en droë toestande het oor die grootste gedeelte van die land voorgekom met die uitsondering van gedeeltes van Gauteng, Mpumalanga en KZN waar goeie reën voorgekom het. Boere het opgehou met plant in die Vrystaat en Noordwes Provinsie aangesien die bo-grond te vinnig uitgedroog het vir goeie ontkieming.

Goeie reën het teen verwagting in ook in die periode 6 en 7 Desember oor gedeeltes van die Karoo voorgekom as gevolg van ’n redelike sterk laagdrukstelsel wat ver suidweswaarts ontwikkel het en tropiese vog oor Namibië laat afbeweeg het.        

2. Verwagting vir die volgende twee weke (7 tot 21 Desember 2009)
2.1 Somerreënvalgebied
Reënval

Dit lyk asof daar twee stelsels in die volgende week tot 10 dae reën kan veroorsaak oor die land. Die stelsel wat vanaf 6 Desember reën oor die suidwestelike dele veroorsaak het, behoort ooswaarts te beweeg en reën kan ook oor die sentrale tot oostelike gedeeltes voorkom vanaf 8 tot 10 Desember. Dit lyk asof 10mm tot 20mm moontlik is oor die oostelike dele van die Noord-Kaap, die hele Noordwes, Vrystaat, Limpopo, Gauteng, Oos-Kaap, KZN en Mpumalanga vir die periode tot 9 Desember. Opklaring gaan vanuit die weste plaasvind en teen 10 Desember behoort ook die oostelike gedeeltes op te klaar.

’n Volgende stelsel kan vanaf Sondag 13 Desember weer toestande laat verbeter vir reën oor die meer oostelike en suidoostelike dele van die land (Oos-Vrystaat, Oostelike dele van die Noordwes Provinsie, die hele Gauteng, die hele KZN, suidelike dele van Limpopo en die grootste gedeelte van Mpumalanga en die Oos-Kaap. 

2.2 Winterreënvalgebied     
Min of geen reën lyk moontlik oor die westelike dele van die Wes-Kaap tot ten minste 21 Desember nie. Toestande lyk egter beter oor die Suidkusgedeeltes en ligte reën is moontlik oor die Mosselbaai tot Knysna gebied en verder kuswaarts na die noorde vir die periode vanaf 13 tot 16 Desember.  

2.3 Algemeen
Baie warm en droë toestande behoort terug te keer oor die westelike gedeeltes van die land en min of geen reën word ook oor die Wes-Kaap verwag nie. Die oostelike dele van die land kan goeie neerslae verwag, veral die noordelike dele van die Oos-Kaap.

3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan

Die Niño 3.4- en ander Niño-gebiede se temperature het die afgelope twee weke gestagneer en is ongeveer 1.6oC warmer as normaal. Dit is egter normaal dat periodes van vinnige ontwikkeling opgevolg word met periodes van geen of baie min ontwikkeling. Voorspellings dui steeds op ‘n volgende sterk verwarming in Januarie om ‘n piek te bereik in Februarie voordat afkoeling behoort plaas te vind. Die verwagting is dat ’n verdere styging van tot 1oC moontlik is in die volgende 2 maande.    

Kyk na onderstaande webbladsye.
 http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/ocean/weeklyenso/wkteq_xz.gif
.
 http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/enso_update/ssta_c.gif

Die intensiteit van die voorspelde El Niño het nou weer versterk.  Die maksimum uitwyking word tans beraam op ongeveer 2.3oC warmer as normaal wat as ’n matige/sterk El Niño beskryf kan word. Die piek behoort teen Februarie 2010 bereik te word. 

http://www.cpc.ncep.noaa.gov/products/analysis_monitoring/lanina/images/...

3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).) 
 
Die 30 dae gemiddelde SOI was op 7 Desember 2009 =  -6.61.

(http://www.longpaddock.qld.gov.au/SeasonalClimateOutlook/SouthernOscilla...)

Die maand van November was volgens die SOI-fase sisteem in Fase 1, (El Niño-neigend). Kyk na onderstaande webbladsy deur op „World“ te kliek.
http://www.longpaddock.qld.gov.au/SeasonalClimateOutlook/RainfallProbabi...

4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande (Implikasies van El Niño)
4.1 Somerreënvalgebied

Alhoewel reën oor die westelike gedeeltes voorgekom het in die eerste week van Desember, bly die kanse vir verdere reën in die volgende ten minste twee maande redelik swak oor die Noord-Kaap en westelike dele van die Vrystaat en Noordwes-provinsie.
 
4.2 Winterreënvalgebied
Met die huidige redelike matige tot sterk El Niño-ontwikkeling veroorsaak dit ook dat koue fronte steeds verder noord as normaal beweeg. Alhoewel min reën in die volgende twee weke verwag word, is die kanse bogemiddeld vir reën oor die Wes-Kaap en veral die Suidwes Kaap in Desember en Februarie.  

5. Waarskuwings
•    ’n Derde tropiese sikloon vir die seisoen het in die Suidelike Indiese Oseaan begin ontwikkel op 7 Desember. Alhoewel dit op 7 Desember ongeveer 5000km oos van Madagaskar was, dui voorspellings aan dat dit gaan versterk en redelik vinnig weswaarts gaan beweeg. Teen 12 Desember behoort dit ongeveer 1000-2000km vanaf Madagaskar te wees en kan dit die Mosambiek-kanaal bereik tussen 13 en 16 Desember indien dit nie vinnig gaan verswak of suidwaarts swaai nie.   

6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Die grootste gedeelte van die wintergraanoes is ingesamel behalwe in die Oos-Vrystaat. 

6.2 Somergraan
Toestande het verswak as gevolg van die droë, warm en winderige toestande oor die sentrale tot westelike dele. In gedeeltes van veral die Noordwes Vrystaat soos Bothaville, Hoopstad en Wesselsbron het wind en sandstorms skade aan jong gesaaides veroorsaak. Dit is tans nog te droog om oor te plant en die planttyd gaan ook verby.

’n Redelike groot gedeelte van die somergraan oes in die Vrystaat en Noordwes provinsie moet nog geplant word, maar tans is dit nog te droog om verder te plant. Die einde van die optimum plantvenster van ongeveer 15 Desember vir mielies begin baie vinnig nader beweeg.  

Toestande lyk egter goed in die oostelike produksiegebiede en plek-plek is toestande te nat. 

Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein.

8 Desember 2009

5
 
 

Kommentaar

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)

Jou e-pos adres sal nie vertoon word nie.