Die swaarste ryp van die jaar het sy verskyning in die binneland gemaak en die Wes- en Suid-Kaap kan uitsien na reën.
Hoofnuus
Die swaarste ryp tot op hede het vanaf 28 Mei voorgekom. Nagte gaan steeds koud bly.
Reën is weer moontlik oor die Wes- en Suid-Kaap rondom 3 en 4 Junie maar veral vanaf 8 Junie. Reën het oor die droogtegeteisterde Tuinroete voorgekom maar dit is te min om die droogte te breek en damme aanvulling te gee.
Die El Niño-verskynsel van die afgelope seisoen is finaal verby en daar is sterk aanduidings van ’n La Niña-ontwikkeling.
1. Die afgelope twee weke
Baie koue toestande het oor die tydperk vanaf 28 Mei oor veral die sentrale tot suidelike gedeeltes van die land voorgekom. Die eerste swaar ryp van die seisoen het ook voorgekom. Met die sterk frontale stelsel het goeie reënneerslae oor groot gedeeltes van die Wes- en Suid-Kaap voorgekom. Neerslae van tot 20mm het tot so ver as George in die Suid-Kaap voorgekom. Dit kan die watersituasie in dié gebied wat baie kritiek is, effens verlig. In die Somerreëngebied is die koue toestande en ryp oor die algemeen verwelkom. Dit sal help dat somergrane vinniger afdroog, muskiete en muggies verdwyn en sorg vir koue eenhede vir neutbome en wintergewasse vir dormansie.
2. Verwagting vir die volgende twee weke (31 Mei tot 14 Junie 2010)
2.1 Somerreëngebied
Reënval
Alhoewel daar nog ’n bietjie vog in omloop is, is die kanse vir reën redelik swak in die volgende week tot 10 dae. Ligte reën is moontlik oor die sentrale tot oostelike en suidoostelike gedeeltes rondom 3 en 4 Junie asook 8 tot 10 Junie. Redelik bewolkte toestande kan verwag word in veral die week tot 5 Junie.
Temperatuur
Nag- of minimumtemperature gaan laag wees met ryp wat verwag kan word in die volgende tyd oor groot gedeeltes van die land, met die uitsondering van die noordelike gedeeltes. Dagtemperature behoort rondom 15 tot 20 grade C te wees oor die sentrale tot suidelike gedeeltes, maar warmer in die meer noordelike, noordwestelike en noordoostelike gedeeltes.
2.2 Winterreëngebied
Frontale stelsels behoort reën te veroorsaak vir die tydperk rondom 3 en 4 Junie asook veral vanaf 8 tot 14 Junie wanneer redelike goeie neerslae weer moontlik is tot so ver as die Suid-en Oos-Kaap.
3. See-oppervlaktemperature
3.1 ENSO- (El Niño Suidelike Ossillasie) – Stille Oseaan
See temperature in die sentrale Stille Oseaan is vir die eerste keer sedert ongeveer April 2009 weer koeler as normaal. Die belangrike Niño3,4-gebied is ongeveer 0,2 grade C koeler as normaal wat dui op ’n La Niña-tipe ontwikkeling. Kouer water uit die dieper lae van die oseaan is besig om na die oppervlakte te beweeg en het begin om die oppervlakte te bereik en die warm water te verplaas.
Grafiek 1:
3.2 SOI (Suidelike Ossillasie Indeks)
(Die SOI is afgelei vanaf die lugdruk verskil tussen Darwin in Noord-Australië en Tahiti in die Stille Oseaan. As gevolg van die verskil in oppervlaktemperatuur is daar ook ‘n verskil in lugdruk wat maklik meetbaar is en ‘n aanduiding gee van die stand van see temperature. Die “ossillasie” gedeelte is afgelei van die feit dat die gebied van warmer en kouer water ossilleer of skuif as gevolg van die gebrek of teenwoordigheid van oppervlakte winde uit die suidoostelike Stille Oseaan, wat poele warm en koeler water veroorsaak. Dus is die SOI ‘n maatstaf van die stand van El Niño/La Niña. Die SOI waardes wissel tussen -30 (baie sterk El Niño) en +30 (baie sterk La Niña).)
Die 30-dae gemiddelde SOI was op 31 Mei 2010 = +10,54 wat ’n baie sterk ommeswaai toon vanaf einde Maart 2010 waar die SOI nog -10,93 was. ‘n Styging in SOI verteenwoordig ‘n beweging weg van El Niño. Hierdie baie sterk sein kan verantwoordelik wees vir swakker reënval oor die Winterreenvalgebiede vir die Junie tot Augustus tydperk maar nog reen in die Somerreëngebied, veral die noordoostelike gedeeltes.
4. Reënvalvooruitsigte vir die komende maande
4.1 Somerreëngebied
Met die La Niña-tipe ontwikkeling wat tans besig is om plaas te vind kan ligte reën nog verwag word oor veral die noordelike helfte van die land in Junie en Julie.
4.2 Winterreëngebied
Redelike normale reënval kan verwag word, alhoewel daar aanduidings is van ondernormale reënval later in die seisoen.
5. Tropiese siklone
Die tropiese sikloonseisoen is verby. Die 2009/10-seisoen was een van die seisoene met die laagste sikloonaktiwiteit in die Indiese Oseaan.
6. Graanproduksie
6.1 Wintergraan (Vrystaat, Wes- en Suid-Kaap).
Baie min koring gaan aangeplant word in die droëlandproduksiegebied van die Vrystaat. Besproeiingsoppervlaktes in die Noord-Kaap, Noordwes en Limpopo gaan egter redelik normaal aangeplant word as gevolg van ’n gebrek aan ’n alternatiewe wintergewas. Minder koring gaan ook in die Wes-Kaap aangeplant word maar die afwyking is nie so groot soos in die Vrystaat nie. Swak koringspryse is die hoofrede vir die afname.
Die Oesskattingskomitee se vooruitskatting van aanplantings vir die komende seisoen dui egter dat ongeveer 548 000 ha koring geplant gaan word wat meer as 100 000 ha of 16% minder is as die vorige seisoen en ongeveer 32% minder is as in 2008. Dit is veral in die Vrystaat waar baie minder koring aangeplant gaan word (180 000 ha in 2010 teenoor 235 000 ha in 2009).
6.2 Somergraan
Probleme word ondervind met veral mielies waar diplodia-kopvrot redelike ernstige oesverliese tot gevolg het. Dit is ’n gevolg van die nat toestande gedurende die afgelope seisoen wat gunstige toestande geskep het vir siektes en peste.
Geskatte mielie-oes
Die CERES-Maize groeisimulasie model is gebruik om ’n beraming te doen van die verwagte RSA mielie-oes. Die oes teen die einde van Maart 2010 is beraam op tussen 12,7 tot 12,9 miljoen ton met die mees waarskynlike oes ongeveer 12,9 miljoen ton. Die skatting van die Oesskattingskomitee dui op ’n oes van ongeveer 13,1 miljoen ton.
Geskryf deur Johan van den Berg, Santam Landbou, Bloemfontein
31 Mei 2010
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)